Tlakula-ondersoek tot ná die verkiesing uitgestel

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Die ondersoek na Pansy Tlakula, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se bevoegdheid om in haar amp te dien, is Vrydag in die verkiesingshofsitting in die Johannesburgse hooggeregshof uitgestel.

Regter Lotter Wepener het gesê die hof sal nie voor Dinsdag om 17:00 ʼn aanbeveling kan maak nie. “Die ondersoek moet uitgestel word tot die tweede week van Junie,” het Wepener gesê. Partye moet hul argumentshoofde voor 28 Mei indien.

Hy het gesê die hof het in berekening gebring dat dit ʼn Vrydagmiddag is en dat Tlakula se prokureur nog nie sy verslag ingedien het nie.

Daniel Berger SC, vir Tlakula, het vroeër uitstel versoek indien die hof nie voor die algemene verkiesing op 7 Mei sy aanbeveling kan maak nie.

Die hof ondersoek Tlakula se gedrag nadat verskeie opposisiepartye ʼn aansoek ingedien het waarin haar bedanking voor die verkiesing geëis word. Die betrokke partye is die United Democratic Movement (UDM), die African Christian Democratic Party (ACDP), die Congress of the People (Cope), Agang SA, en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF). Tlakula was nie Vrydag in die hof nie.

Die partye het geëis dat Tlakula bedank, aangesien haar integriteit bevraagteken word. Die Nasionale Tesourie het ʼn forensiese ondersoek geloods oor die aanskaffing van die OVK se Riverside-kantoorparkgebou in Centurion, Pretoria. Die ondersoek het bevind die proses was nie regverdig, deursigtig of koste-doeltreffend nie. Die ondersoek het ook bevind dat Tlakula nie leiding gegee het of verskeie persone formeel in kennis gestel het wat van hulle in die proses verwag word nie.

Tlakula hou vol sy is nie in die verslag van korrupsie beskuldig nie.

Die Tesourie het die ondersoek versoek ná ʼn aanbeveling deur die Openbare Beskermer in haar eie verslag oor die kwessie wat in Augustus 2013 vrygestel is. –SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.