TLU SA: 1 000 jaar nodig om grondeise te verwerk

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Teen die pas wat grondeise tans verwerk word, sal dit 1 000 jaar neem om al die verwagte 379 000 grondeise te verwerk, het die landbou-unie TLU SA Maandag gesê.

Dit sal 55 jaar neem om net die 20 737 eise wat in die eerste kwartaal van vanjaar ingedien is, af te handel, het Louis Meintjies, president van die TLU SA, gesê. Hy het reageer op die mees onlangse getalle wat deur die portefeuljekomitee op landelike ontwikkeling en grondhervorming voorgelê is.

“Die TLU SA was reg toe ons gewaarsku het dat die regering ʼn blik wurms sal oopmaak deur ʼn nuwe grondeisproses oop te stel en dat die regering nie die hoeveelheid eise sal kan hanteer nie,” het Meintjies gesê. “Dit is duidelik dat onrealistiese doelwitte gestel is wat nie behoorlik oorweeg is nie.”

Meintjies het gesê die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming ly onder ’n tekort aan kapasiteit en kennis, maar word steeds deur ’n politieke agenda en ideologie gedryf wat duidelik misluk. “Die ANC-regering het duidelik nie uit die duur lesse van elders in die wêreld geleer nie. Die gevolg is dat boere onseker bly oor die toekoms, nuwe toetreders is huiwerig om by landbou betrokke te raak en verbruikers raak al meer bekommerd of daar kos op die tafel gaan wees en wat die prys daarvan gaan wees,” het hy gesê.

“Intussen is die land se ekonomie op die randjie van ’n resessie. ʼn Verantwoordelike regering sal nou al sy aandag toespits op die ekonomie en die onwerkbare grondeisproses onmiddellik opskort. Ongelukkig het ons al geleer dat die ANC-regering onverantwoordelik is, wat beteken ons kan nog erger omstandighede in die toekoms verwag.”

Hy het boere aangemoedig om positief te bly en aan te hou om kos op die tafels van Suid-Afrikaners te sit. “Indien ’n grondeis [teen jou grond] ingedien word, moet jy nie ontsteld raak nie, maar eerder die TLU SA nader. Ons is nog steeds die hoofkosprodusente, nie danksy die regering nie, maar ten spyte van die regering.”

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

hannes ·

Mense mense met al die ground eise Wie gaan kos prodiseer?

Winston ·

Dit is tragies, want alhoewel boere aangemoedig word om voedsel te produseer, lei die psige van boerdery in elk geval daaronder. Wie kan positief bly in so n atmosfeer en probeer hoogs produktief bly? En dan word ons van bo af deur die regering bedreig met eise en van alle kante af met plaasmoorde, waaraan die regering geen prioriteit toestaan nie. En dit in n ekonomiese verval stadium waar brandstof, arbeid en belastings grond eienaars verlam. Wat sal word van die res van die bevolking se voedsel op hulle tafels, as almal net bestaansboere word of is?

pop ·

Ek glo nie die huidige regering gaan hom veel langer steur aan wetlike grondeise nie. Sal net vat. Dis mos die kultuur van afrika. Jy vat en vat en breek af tot daar niks is, en dan huil jy by die ander lande vir kos voorsiening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.