TLU SA betwyfel nut van begrotingsrede

Argieffoto. (Foto: Steve Buissinne/pixabay)

Op die vooraand van die jaarlikse begrotingsrede betwyfel TLU SA of daar nog enige nut is om ʼn staatsbegroting saam te stel en voor te hou.

“Ons is oortuig presies dieselfde geykte voordrag sal net weer opgedis word,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Verder sal die beloofde geld vir spesifieke sake net weer in iemand se persoonlike koffer beland en nie aangewend word waarvoor dit geoormerk is nie. Dienslewering sal weer net ʼn droom bly.”

Indien die minister van finansies, Tito Mboweni egter ʼn geloofwaardige begroting bekend wil stel, kan hy aandag skenk aan die volgende, meen Geldenhuys:

  1. Besnoei staatsuitgawes;
  2. Implementeer daadwerklike planne om die staatskuld aan te spreek;
  3. Plaas ‘n verbod op salarisverhogings van staatsamptenare totdat die ekonomie beduidend groei;
  4. Begroot om infrastruktuur daar te stel wat die ekonomie kan stimuleer;
  5. Kyk na die kundigheidsvlakke in die staatsdiens, sowel as die prestasie ten opsigte van dienslewering;
  6. Hou die politieke hoof aanspreeklik vir korrupsie in hulle onderskeie departemente;
  7. Staak beleide wat beleggings verdryf soos SEB en onteiening sonder vergoeding;
  8. Begin werkloosheid oplos deur ‘n klimaat te skep waarbinne entrepreneurs die vertroue sal hê om besigheid te doen en werk te skep; en
  9. Verander die wet so dat inwoners veiligheidsuitgawes van belasting kan aftrek.

Landbou word telkens deur die president – ook in sy staatsrede – uitgelig as uiters belangrik en daarom sou TLU SA graag wou sien dat die volgende punte aandag ontvang tydens die begrotingsrede:

  • Polisie: Voldoende befondsing om eerstens die SAPD te suiwer van onbevoegde, misdadige en korrupte polisiebeamptes en dan toe te sien dat daar effektiewe opleiding verskaf word ten einde ʼn hoë-kwaliteit polisiediens te kan lewer. Die nodige middele vir die polisie om hulle werk te kan doen moet verskaf word. Spesialiseenhede wat spesifiek fokus op bepaalde misdaad soos plaasaanvalle moet geskep word. In kort wil ons sien dat die SAPD so bemagtig word dat hulle die werk na behore kan doen.
  • Infrastruktuur: Die daarstel van die nodige infrastruktuur is van kardinale belang om die ekonomie te laat funksioneer.
  • Rampbestuur: Maak voorsiening om tydens rampe die nodige ondersteuning te kan gee vir boere wat kos vir die markte produseer.
  • Staatsdiens: Daar is geen vlak van die staatsdiens wat effektief funksioneer nie. Baie produktiewe ure gaan verlore omdat dienslewering in feitlik geen departement ʼn prioriteit is nie. Suiwer die staatsdiens van onbevoegdheid deur na kundigheid te streef en die rasgedrewe beleid van SEB te laat vaar.
  • Grondeise: Begroot voldoende fondse om die wettige grondeise nou eens en vir altyd af te handel en daarna toe te laat dat die mark grondbesit reguleer.
  • Beleggersvertroue: Fokus op dit wat beleggingsvertroue sal skep. Dit behels dat vernietigende beleidsbenaderings soos onteiening sonder vergoeding noodwendig laat vaar moet word.
  • Ekonomiese groei: Elke uitspraak of toedeling moet getoets word aan die beginsel oor wat dit aan ekonomiese groei gaan doen.
  • Werklikheid: Begroot gegewe Suid-Afrika se werklikheid en besef dat die ANC se beleidsrigting ons ekonomie in die grond in gedruk het. Suid-Afrika is in rommelstatus in presteer. Werkloosheid het ongekende afmetings aangeneem en gaan net verder styg as gevolg van die nuwe minimumloon. Ekonomiese groei moet die kern-fokus wees.

“Ons is baie bekommerd dat die ANC sal voortstu op hulle ideologiese pad van ekonomiese vernietiging,” sê Geldenhuys. “Die markkragte is uiteindelik die bepalende faktor wat sal besluit of daar ekonomiese groei sal wees. Dit beteken dat die regte dinge geïmplementeer moet word, wat dan vertroue vir beleggings sal skep. Die beleidsonsekerheid en in baie gevalle selfs die wegjaag van kapitaal, is ongelukkig die bestuurstyl van die ANC.

“Ekonomiese groei is nie dinge wat in staats- of begrotingsredes aangekondig word en dan word dit skielik die realiteit nie. Dit word verkry deur vanuit ʼn stabiele en gesonde beleidsomgewing wat vertroue inboesem – iets wat die ANC geensins regkry nie – daarheen te presteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Padinfrastruktuur. Dit het nou baie gereën en dit is verstaanbaar dat paaie op die platteland in n toestand is. Voor die reën was paaie op die platteland alreeds n in n haglike toestand.
Produkte en vee moet van plase na markte en veilingshuise geneem word. Die padinfrastuktuur laat dit nie toe nie of bemoeikik transport geweldig.
Dwpr Publieke Werke paaie vergemaklik nie hierdie saak nie.
Paaie in baie areas kort dringend aandag.
Ja, veral nou na die reën. Dit het n groot impak op die ekonomie.

Nie Verbaas ·

Ongelukkig maak die begroting nie voorsiening vir wanbesteding, korrupte kaders en diefstal nie dus kan Tito dit maar los. Die ideale ekonomiese omgewing is al jare gelede verwoes meneer.

Frederik C ·

Stem saam. Mors van tyd. Ekonomie was nog nooit die manne se sterk punt nie. Selfs net ‘n basiese kursus in rekeningkunde sou hulle kon help.

Johan ·

Eks van mening dat mnr Geldenhuys darem nou sy nek baie ver uitsteek om all staatsdienswerkers oor dieselfde kan te skeer verwysend na die punt dat “Daar is geen vlak van die staatsdiens wat effektief funksioneer nie.”

Ek is ‘n trotse afgetrede staatsamptenaar met bykans 47 jaar diens van die Wes-Kaapse Provinsiale Departement van Vervoer en Publieke Werke en kan u verseker dat die punt soos hierbo gekwoteer nie korrek is nie om dit ligtelik te stel. Ek kan vir u meer as een komponent binne voormelde departement gaan wys wat beslis effektief funksioneer. Verder wonder ek wat Premier Alan Winde vir mnr Geldenhuys sal sê as hy dit moet lees.

Werner ·

Johan jy het ook lyk my nes die regering tred met die werklikheid verloor.

Jedi Knight ·

Laat my toe om vir Geldenhuys te korrigeer. Hy is verkeerd as hy sê 0% van die staatsdiens werk. In der waarheid is dit 0.00000001% van die staatsdiens wat werk.

Piet parys ·

Gelukkig werk jy nie meer daar nie . So dit help nie die leunstoele funksioneer maar die werk word nie gedoen nie. Hoekom is die land dan bankrot .???
1+1 = 2

Werner ·

Henry slaan die spyker op die kop.Weet nie wie mors nog hulle tyd behalwe n paar staatsdienstwerkers wat na die drome en gesigte luister nie.

Nico ·

Die ministers en staats president kry elke jaar verhogings wat onnodig is maar die staats diens werkers kry geen verhoging nie, wat absoluut onregverdig is, my vrou is ‘n verpleegsuster by ‘n staatshospitaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.