TLU SA eis Cele se kop

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

TLU SA sê hy het genoeg gehad van die swak bestuur in die departement van polisie en het Dinsdag ’n veldtog van stapel gestuur om Bheki Cele, minister van polisie, se kop te laat rol.

Volgens die landbouorganisasie het Cele se wanbestuur al in 2011 kop uitgesteek toe hy as polisiekommissaris ondersoek en geskors is. Bewyse oor korrupsie het toe aan die lig gekom, maar hy is eers in 2013 afgedank terwyl sy salaris van R1,3 miljoen steeds betaal is.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie het onlangs gehoor dat die polisie se vuurwapen-permitstelsel – wat gebruik word om derduisende amptelike vuurwapens te bestuur – deur die forensiese datadiensverskaffer, Forensic Data Services, afgeskakel is omdat die polisie versuim om vir die kopiereg van die sagteware te betaal, hoewel daar ’n goedgekeurde begroting was en die saak al tot in die appèlhof gaan draai het. Volgens TLU SA is daar dus geen manier om die gesteelde amptelike vuurwapens na te spoor nie.

Die datadiensverskaffer hanteer ook die register van DNS-bewyse wat op misdaadtonele versamel word. Ook hierdie stelsel is nou afgeskakel en daarom is sowat agt miljoen bewysstukke verlore.

Albei stelsels word intussen per hand bygehou wat ’n enorme implikasie inhou in die nasporing van gesteelde vuurwapens en bewysstukke en misdadigers eenvoudig vrye teuels gee.

TLU SA wys uit hoe speurders oor die algemeen nie hul werk doen nie weens swak hulpbronbestuur. Hulle is soms genoop om uit hul eie sakke vir toerusting en uniforms te betaal.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het twee weke gelede in ’n voorlegging in die Gautengse wetgewer bekendgemaak dat die opsporingsyfer van verdagtes van die meeste misdade in die provinsie minder as 50% is. Dit wek groot kommer oor die Gautengse polisie se speurdiens wat weens tekortkominge in die polisie se ondersteuningstelsel ernstig aan bande gelê word.

In dieselfde voorlegging is ook bekendgemaak dat net meer as die helfte (61%) van polisielede in Gauteng bevoeg is om ’n vuurwapen te gebruik.

TLU SA voer aan Cele moet as die minister van polisie afgedank word.

“Die polisiestelsel is ’n gemors omdat Cele behep is met magsvertoon in plaas van die beveiliging van Suid-Afrikaners,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.

“Navorsing het al talle kere bewys hoe ’n swak bestuurder ’n hele onderneming negatief kan beïnvloed. In die polisie is daar ook vrot appels wat maar net die voorbeeld van hul topbestuurder volg en ander lede – wat graag hul plig as beskermers van veiligheid wil nakom – se reputasie beswadder. Ons probleem is nie met die lede wat ons boere goed bystaan en meer as hul plig doen nie. Dit is met misdadigers in die mag, en die nommer-een-vyand van veiligheid in die land, Bheki Cele. Hy moet tsamaea!”

Geldenhuys sê hy hoop dat ’n nuwe besem skoon sal vee en dat die departement ’n nuwe aanslag sal volg sodat veiligheid in Suid-Afrika versterk kan word.

 

Die veldtog kan by die volgende skakel gesteun word: https://www.tlu.co.za/tsamaea-cele/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Samuel

Cele se opvolger sal in elkgeval ook maar net ‘n ander kader wees wat in iemand se sak is. Die hele spul is skelm.

daniel

Vinkel en koljander die een nes die ander
Almal korrup.

Deon

Hy moet tsamaia, maar wie vat sy plek? Die een wat by hom geleer het en ons in dieselfde posisie laat., tyd dat die anc tsamaia

Pieter

Ou cyril sal nie van sy vriend ontslae raak nie.Die SAP is een groot sirkus saam met die land se regstelsel. Dit gaan orals so waar ouer people regeer.

Nie Verbaas

Wat was Malema se woorde nou weer oor de Ruyter, wat hy duidelik geen idee het waarvan hy praat nie? As nutteloos n persoon was, was dit Cele.