TLU SA eis duidelikheid oor privaat besitreg en vrye mark

tlusa-kongres-agrilimpopo

Louis Meintjes, president van die TLU SA, het ʼn stampvol saal by die WNNR se konferensiesentrum in Pretoria toegespreek. Foto: Agri Limpopo/Twitter.com

Suid-Afrika is tans op ʼn glybaan in die verkeerde rigting en die dilemma is dat diegene wat hiervoor verantwoordelik is eerder die skuld op kolonialisme en rassisme pak as om die waarheid daaroor te praat.

So het Louis Meintjes, president van die TLU SA, in sy toespraak Woensdag by die landbou-organisasie se jaarlikse kongres gesê. Hy het ʼn stampvol saal by die WNNR se konferensiesentrum in Pretoria toegespreek.

Dié landbou-organisasie, wat op 29 September 1897 net voor die aanvang van die Anglo-Boereoorlog gestig is, vier ook vanjaar sy 120ste bestaansjaar.

“Die ontstaanjare van die TLU was in ʼn moeilike tyd, maar vandag staan dít wat die unie oor 120 jaar bereik het as monument in die landbou-omgewing. Die kritieke vraag is: Wat nóú? Hoe vorentoe?” het Meintjies gesê.

Hy meen die prys wat Suid-Afrika tans vir die omvang van korrupsie, staatskaping, misdaad, die ineenstorting van stelsels, swak bestuur en swak en verwarrende beleidsomgewing betaal, het eenvoudig te duur geword.

“Volgens Statistieke SA se mees onlangse sensus leef 55% van ons land se inwoners nou in armoede. Die grootste gedeelte van hierdie mense is tussen 17 en 25 jaar oud en woon in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Dit is ook die twee provinsies met die meeste hoëpotensiaal-landbougrond en waar die meeste grond aan tradisionele leiers behoort.”

Hy het ook gesê daar sal moet duidelikheid kom oor of daar in die toekoms steeds ʼn stelsel van privaat besitreg en ʼn vrye mark in Suid-Afrika sal wees.

“Grondhervorming en transformasie soos deur die regering voortgedryf, het mislukking daarby ingebou. Dit het dalk tyd geword om duidelike inhoud te gee aan begrippe soos grondhervorming en radikale ekonomiese transformasie wat deesdae so maklik gebruik word.”

Meintjes het gesê die TLU SA se definisie van grondhervorming is die proses om onbenutte grond in voormalige tuislande, staatsgrond asook grond wat deur die grondeiseproses en oordrag aan begunstigdes onproduktief geraak het weer in produksie te kry. “Ons organisasies ondersteun die beginsel van privaat besitreg. Ons het nie ons grond gesteel nie.”

Die organisasie beskou radikale ekonomiese transformasie as die ontwikkeling van die ekonomie deur die uitskakeling van korrupsie, staatskaping en ander misdrywe, sowel as die daarstel van beleidsekerheid wat ekonomiese groei sal stimuleer en lei tot beleggings en landbou-ontwikkeling. “Ons ondersteun die vryemarkbeginsel, want kommunisme en sosialisme het elders klaaglik misluk.”

Meintjies het benadruk dat dit die verantwoordelikheid van die regerende party is om ʼn gesonde beleidsomgewing te skep waarin vertroue aangewakker word.

“Die toekoms van landbou is in ons hande. Dit is duidelik dat die tweespalt in die regering en die verskillende sieninge wat daar geld ʼn verlammende uitwerking het sodat instansies nie sinvol hul rol kan speel om die regte omgewing te skep waarbinne landbou gedy nie.

“Die hele waardeketting moet saamwerk om duidelik rigting te gee oor hoe landbou vorentoe ontsluit moet word. Geeneen van die onderskeie strukture sal dit op hul eie alleen regkry nie,” het Meintjes bygevoeg.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het in sy toespraak gefokus op die pad vorentoe vir dié landbou-organisasie. Hy het gesê die organisasie sal hom in die toekoms toespits op kwessies rakende eiendomsreg, boere se veiligheid op plase en water-aangeleenthede om die volhoubaarheid van landbou te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Cherokee ·

Een vraag wat nooit aangespreek word wanneer instansies soos hierdie samesprekings hou en toesprake maak nie, is of die geskiedenis wat ons as kinders geleer het, vals is.

Dit blyk die waarheid te wees dat elke nuwe regering nuwe geskiedenisboeke skryf. Die geskiedenis verander na smaak. En as dit so is dat die ANC die geskiedenis van Jan Van Riebeeck verander na soos hulle dit wil hoor, dan kan dit net so wel die geval gewees het met ons voorgeslagte ook. Dat hulle ook geskiedenisboeke na eie smaak verander het.

En die feit dat die bewering dat hier geen swartes was toe die boere hier aangeland het nie, glad nie deel vorm van die gesprekke nie, laat my wonder wat die ware geskiedenis is kort na 1652.

Riena ·

Nog `n vraag wat nooit of bitter min aangespreek word is of daar genoeg kinders in die volgende geslag gaan wees om enige geskiedenis te leer. Teen die huidige koers van minder as twee kinders per gesin gaan daar binnekort niemand meer oor wees om enigiets te leer nie. Die plase hoef dan nie eens onteien te word nie, want daar sal nie genoeg mense oor wees om daarop te boer nie. Tensy ons natuurlik meer kinders kry en die mannekrag bied om ons samelewing voort te sit met boerdey en skole en geskiedenis.

Cherokee ·

Jy is heeltemal reg Riena. Dit is al vir jare bekend dat die Suid Afrikaner se bevolkingsgroei ‘n minus-syfer is.

John ·

Julle hoop verniet dat SA sal leegloop. Die wit gemeenskap mag om verskeie redes dalk verder uitdun, maar Afrika se inwonertal sal volgens raming teen 2050 verdubbel. So, waarheen sal sy ‘kinders’, veral met die huidige beloftes van die ANC van ‘alles pasella’, uitwyk? Wat wel ook waar is, is dat weens ingrepe vanuit die Vaderhand, dit onmoontlik is om toekomsvoorspellings te maak. Om ons sondes te bely en ons hand aan die ploeg te hou met die bede dat Sy Wil geskied, is sekerlik die beste opsie. Praat oor ons regte is so goed soos die praatjies op die stoep voor die kooperasie; niks werd nie. Die Grondwethof se dae is getel. Gryp die kans aan en kry sy stempel op papier. Die buiteland sal dit miskien wel belangrik ag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.