TLU SA hoopvol oor klein afname in plaasaanvalle

plaasaanvalle

Argieffoto: SAPD

TLU SA hoop dat die afname in plaasaanvalle en -moorde gedurende Januarie 2020, in vergelyking met die statistiek van ʼn jaar gelede, vir die res van die jaar sal voortduur.

Volgens TLU SA se amptelike Insidente Register wat sedert 1990 bygehou word, was daar in Januarie 20 geregistreerde aanvalle en geen moorde nie. In Januarie 2019 is 35 plaasaanvalle en ses plaasmoorde gedurende die eerste maand van die jaar aangeteken.

Wanneer die geregistreerde insidente (aanvalle en moorde) slegs vir Januarie sedert 2015 vergelyk word, lyk die prentjie as volg:

  • 2015: 23 plaasaanvalle en 8 moorde
  • 2016: 30 plaasaanvalle en 9 moorde
  • 2017: 26 plaasaanvalle en 4 moorde
  • 2018: 39 plaasaanvalle en 5 moorde
  • 2019: 35 plaasaanvalle en 6 moorde
  • 2020: 20 plaasaanvalle en geen moorde nie.

“Gebaseer op hierdie register, word dit vertrou dat die effens gunstiger situasie vir die res van die jaar sal voortduur,” sê genl.maj. Chris van Zyl, die adjunk-hoofbestuurder van TLU SA. “Die positiewe neiging kan na alle waarskynlikheid toegeskryf word aan ʼn groter sekerheids- en veiligheidsbewustheid onder plaas- en hoewebewoners asook flinke reaksie deur bure en plaaswagte. Nogtans is die volgehoue tendens van bykans een aanval per dag – waarvan ons bewus is – steeds onaanvaarbaar hoog.”

Wanneer die totale voorvalle van 2019 met dié van 2018 vergelyk word, is TLU SA ook bekommerd dat plaasaanvalle en -moorde eerder toegeneem as afgeneem het.

“Die data van 2019 in vergelyking met 2018 toon steeds stygings ten opsigte van beide die getal geregistreerde aanvalle – 419 teenoor 394 – sowel as die getal moorde – 56 teenoor 54,” sê Van Zyl. “In die lig hiervan doen TLU SA steeds ʼn beroep op die regering om meer aandag te skenk aan die voorkoms van aanvalle, asook ander misdade op plase.”

TLU SA beveel aan dat gesprekke met die nasionale polisiekommissaris op die volgende sake fokus:
– ʼn landbouvriendelike reservistestelsel;
– die plaaslike integrasie van beskikbare bronne;
– die herbevestiging van plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade;
– dat landbouveiligheid wat winsgewendheid en volhoubaarheid beïnvloed, in plaas van slegs plaasaanvalle, voortaan nasionale prioriteitstatus sal geniet.

Verder moet die landbougemeenskap fokus op die benutting van tegnologie, kommunikasie en inligting; en die opstel en implementering van gebeurlikheidsplanne soos wat TLU SA reeds doen, het Van Zyl bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Werner ·

Seker omdat die mense bietjie meer begin terug baklei dat dit nou afneem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.