Georganiseerde landbou is in rep en roer ná die minister van werkskepping en arbeid, Thulas Nxesi, eergister die nuwe minimumloon vir plaaswerkers in die Staatskoerant afgekondig het.
Plaaswerkerlone is vanaf 1 Maart 2021 gelyk aan die nasionale loon gestel, wat tot R21,69 per uur verhoog is. Dit beteken ʼn reusesprong van 16%, wat ernstige gevolge vir die landbousektor sal inhou.
In die lig van hierdie aankondiging het TLU SA rolspelers in die landboubedryf genooi om dringend deel te neem aan ʼn gesprek om die situasie te bespreek.
“Ondanks baie goeie realistiese insette van verskeie rolspelers in die bedryf is die verhoging deurgevoer,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.
“Daar heers tans ernstige kommer dat die kortsigtige optrede van die regering die landbousektor ontsettende skade gaan berokken.”
TLU SA het vandag na rolspelers soos AgriSA, Saai, die LWO en megaboere uitgereik om koppe bymekaar te sit en die situasie Vrydag 12 Februarie om 12:00 te bespreek.
Die doel sal wees om oplossings te vind waar landbouproduktiwiteit nie ingeboet word en werksgeleenthede nie onnodig verlore sal gaan nie.
“Dit is baie belangrik dat ons hierdie probleem gesamentlik in die belang van voortgesette landbou hanteer,” sluit Geldenhuys af.
Enige ander belangstellende partye is welkom om die vergadering deur Zoom of fisiek (met Covid-19-regulasies in ag genome) by te woon. Bel gerus TLU SA se hoofkantoor by 012 804 8031 of stuur ʼn e-pos na [email protected]
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Tipies die anc , wil meer geld uitdeel maar besef nie waar dit moet vandaan kom nie, n Mugabe denkwyse, as die geld klaar is vervaardig net meer.
Hoop die minister en president is ook daar
Was dit maar nie altyd die plan van die ANC regering nie? Die meer boere wat hulle plase verlaat omdat dit onbekosbaar word, die meer land kry die ANC vir niks. Die boere soos soe baie privaat besighede, is nou net deur ‘n pandemie, maar nou word van boere verwag om nog geld iewers uir te krap!
Dan moet die werkers maar sonder werk sit punt. Ek’s nie ongevoelig nie, maar regtig waar GEEN boer kan 16% verhoging betaal nie dis mal! Nie eers die privaat sektor gee so ‘n enorme verhoging nie. Ek sien baie werkloosheid en hulle moet die regering bedank dan hel man
Meer werkloosheid meer onstabiliteit.Anargie is ons voorland dit is nie net in die landbousektor waar mense hulle werk verloor nie.