TLU SA pak departement oor vuil water

(Argieffoto)

Die swak gehalte van ons water hou nie net ʼn risiko vir die beskikbaarheid van drinkwater in nie, maar ook vir die volhoubaarheid van landbou.

Daarom het TLU SA begin met ʼn veldtog om die departement van water en sanitasie te dwing om Suid-Afrika se waterbronne te herstel of anders private instellings te kry om die werk te doen.

Met hierdie veldtog wil TLU SA die swak gehalte van water reg oor die land onder die regering se aandag bring en ook beklemtoon watter nadelige invloed dit op die land se voedselproduksie het,” sê Steven Vermaak, voorsitter van TLU SA se omgewingsbewaringskomitee.

Volgens die 2019-water‑ en sanitasiemeesterplan was 56% van die 1 150 munisipale rioolaanlegte en 44% van die 962 watersuiweringsaanlegte in swak of kritieke toestand en 11% heeltemal wanfunksioneel. “Die redes hiervoor is die verval van watersuiweringsaanlegte as gevolg van munisipale korrupsie, wanbestuur en onkundige personeel. Verder word riviere en damme erg besoedel as gevolg van swak behuising weens armoede en besoedelaars wat nie vervolg word nie,” sê Vermaak.

Hy sê besoedelde water hou ʼn groot risiko vir landbou en voedselproduksie in en waarsku selfs dat die land afstuur op hongersnood weens ʼn tekort aan skoon water.

“Hoe meer stedelike waterbronne besoedel raak, hoe verder word in landbougrond se water gedelf om skoon water te kry. Hoe minder landbougrond skoon water het, hoe minder volhoubaar is landbou en hoe meer word plase verkoop. Hoe minder kommersiële boere landbouprodukte verskaf, hoe minder voedsel is daar in die land beskikbaar.”

Vermaak sê dit is wel verblydend dat die Blou- en Groendruppelprojekte weer stadigaan begin lewe kry. “Dit is onmoontlik om die probleem op te los as die departement nie eers weet wat die omvang daarvan is nie.”

Só werk die veldtog

Suid-Afrikaners word aangemoedig om ʼn foto van vuil water in hul omgewing af te neem en vir TLU SA te stuur. Hierdie foto’s sal dan deel van ʼn verslag aan die departement en regering uitmaak.

TLU SA dring daarop aan dat die departement die volgende stappe doen:

  • Die status van waterbronne bepaal sodat die graad van herstel verreken kan word;
  • Bevoegde, ervare persone by munisipaliteite en waterowerhede aanstel wat begrip het vir die probleem en vinnig kan optree;
  • Ingevolge bestaande wetgewing optree teen dié wat besoedel, en rou riool en ander items in damme en riviere stort;
  • Die waternavorsingskommissie verantwoordelik hou vir die uitvoer van hulle mandaat.

“Uiteindelik gaan ons ʼn ultimatum aan die regering stel om ons waterbronne teen ʼn sekere tyd te herstel,” sê Vermaak. “Indien die regering hierdie taak nie kan baasraak nie, sal ons daarop aandring dat private instellings die werk oorneem.”

Steun die veldtog by hierdie skakel: https://tluveldtogte.co.za/watersake/ of stuur jou foto’s per WhatsApp aan 060 735 3557.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Is ‘n groot probleem/tameletjie…………..sterkte TLU, en dankie vir jul bydrae en bystand tot ons boere

Pietertjie

Die regering weet van die water probleme, maar gee nie ‘n snars om nie. Maak eerder planne om van die wurms in die kabinet ontslae te raak.