TLU SA: Toets veemedisyne vir Covid-19

(Foto: Graeme Robertson / various sources / AFP)

Die regering moet alternatiewe oplossings in die stryd teen die Covid-19-pandemie ondersoek eerder as om die land eenvoudig na vlak drie van die inperking terug te vat en die ekonomie sodoende verder te skaad.

Die landbou-organisasie TLU SA sê die regering moet self alternatiewe maatreëls begin navors – soos onder meer die toets van veemedisyne teen die virus.

“Die regering behoort, gegewe die beskikbare wetenskaplike inligting, sterk riglyne uit te vaardig vir mense om self toe te pas om die Covid-19-pandemie te bestuur. Dít eerder as om die land terug te vat na vlak drie van die inperking,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.

Geldenhuys het die regering gekritiseer oor sy apatiese houding teenoor die gebruik van Ivermectin – ʼn middel wat teen verskeie infeksies en ook in die behandeling van diere gebruik word.

Volgens hom is die bewese sukses van die middel teen die virus al wyd gepubliseer.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) het dit egter verlede Woensdag in ʼn verklaring duidelik gemaak dat hy nie die gebruik van Ivermectin teen die virus goedkeur nie en dat enige poging om hierdie medisyne na die land in te voer as onwettig beskou sal word.

“Ivermectin word nie deur Sahpra vir gebruik by mense goedgekeur nie. Daar is nog geen bevestigende data oor hierdie medisyne beskikbaar vir die hantering van Covid-19-infeksies nie. Wat veiligheid en doeltreffendheid betref, is daar geen bewyse wat die gebruik daarvan ondersteun nie, en ons het geen kliniese proefbewyse om dit te regverdig nie,” lui die verklaring.

TLU SA meen egter die regering behoort soveel moontlik wetenskaplike, gestaafde feite oor die middel in te samel en te toets. Geldenhuys sê indien dit wel blyk dat die middel met sukses gebruik kan word, moet die regering dit aanmoedig.

“Covid-19 gaan nie teen 15 Januarie sommer net verdwyn nie. Derhalwe is balans in die aanslag teen die aspekte wat ons bedreig noodsaaklik. Om dit te kan doen, is daar kapasiteit in die staatskas nodig om die nodige middele daar te stel om al die bedreigings die hoof te bied. Dit kan net gebeur indien die ekonomie funksioneer en groei bewerkstellig word.”

Geldenhuys meen die regering moet besef dat ʼn aankondiging om die ekonomie so goed moontlik aan die gang te hou goed is, maar dat dit onderhewig is aan die praktiese implikasies van hoe die waardekettings inmekaar gevleg is.

“Indien een ekonomiese aktiwiteit beperk word, het dit onmiddellik ʼn invloed op ander dele van die ekonomie. Werkloosheid, die toemaak van veral kleiner ondernemings en die gepaardgaande armoede is reeds aan die orde van die dag. Slegs ekonomiese groei kan dit suksesvol verbeter.”

Geldenhuys sê die regering het tot dusver baie vinnig regulasies uitgereik waarvan heelwat geen sin gemaak het nie en dit veroorsaak dat die bevolking nou die oordeel van die regering bevraagteken.

“Die verdere korrupsie rakende en wanbesteding van fondse vir die bestuur en verligting van die pandemie het die regering se geloofwaardigheid verder afgetakel. Om daarna bloot verskoning te vra en skuldiges liggies oor die vingers te tik, bou nie vertroue nie.”

Die regering moet groter billikheid en deursigtigheid in sy optrede openbaar, beklemtoon Geldenhuys.

“Dit is nie nou die tyd om ʼn politieke spel van hulpverlening te maak nie. Om byvoorbeeld R1,2 miljard aan die boere wat maar 1% van die kosmandjie produseer te skenk, is onbillik en onverstaanbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.