TLU SA versoek dat afsonderingsperiode opgehef word

(Foto: Maroela Media)

TLU SA het ʼn pleidooi aan president Cyril Ramaphosa gerig om die landwye afsonderingsperiode te lig om die ekonomie te red.

In ʼn formele skrywe aan die president verwys TLU SA na ʼn soortgelyke skrywe van ʼn jaar gelede waarin kommer oor die ekonomie geopper is.

“Dit blyk dat ons ʼn jaar later nog meer rede tot kommer het,” het Louis Meintjes, die president van TLU SA, in ʼn verklaring gesê. “Ons land is in rommelstatus soos wat ons voorspel het gaan gebeur, maar steeds maak die regering geen aanstaltes om die ekonomiese beleid so te verander dat ons weer by ʼn groeipunt uitkom nie.”

TLU SA het die volgende algemene stappe voorgestel om die ekonomie om te draai:

  • Implementeer ʼn ekonomiese beleid waarop die markte positief kan reageer;
  • Bevestig dat die regering die konsep van privaat besitreg en die markkragbeginsel voorstaan;
  • Laat vaar grondonteiening sonder vergoeding en SEB;
  • Maak gebruik van die kundigheid van álle Suid-Afrikaners om die ekonomie om te draai;
  • Beklemtoon die belangrikheid van onderwys en hoe die afbrand, vandalisme en diefstal by skole die toekoms vernietig;
  • Werk daadwerklik om die ekonomie tot by ʼn punt van groei te bevorder.

In die skrywe versoek TLU SA verder dat die aanslag om die verspreiding van Covid-19 te beperk, verlig of heeltemal geskrap word ten einde die ekonomie te red.

In ʼn aparte skrywe aan Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike sake, beklemtoon TLU SA dat die landwye afsondering die ekonomie nadelig beïnvloed. “Die impak van die virus op Suid-Afrika verflou teen die ekonomiese verwoesting wat die inperking saai,” het Meintjes bygevoeg. “Die groeiende armoede, werkloosheid en hongersnood reg oor die land hou ʼn ernstige gevaar in vir die stabiliteit van die land.”

TLU SA stel die volgende voor rondom die afsonderingsperiode:

  • Verlaag of skrap die vlakke van afsondering in soveel as moontlik plekke;
  • Plaas beperkings slegs in die plekke waar daar ʼn hoë konsentrasie van positiewe gevalle voorkom, ouer mense en mense wat aan chroniese siektes ly wat hulle kwesbaar maak;
  • Laat die ekonomie elders sonder enige beperkinge, onderhewig aan praktiese higiëne maatreëls, voortgaan.

“As die leier van die land is dit jou plig om op te staan en die regte rigting aan te dui, mnr. Ramaphosa,” sê Meintjies. “Ons wag op jou leiding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Ongelukkig lag hulle vir julle by TLU. Baie jammer daaroor. Die regering voel niks vir die land en sy mense nie. Net vir hulle self en hul eie sakke.

Nico ·

Verstaan niks, al wat hulle verstaan is om vir hulself te sorg.

Hekwag ·

Ek glo vas dat hierdie hele Covid ding ‘n goed georkestreerde wêreld-klug is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.