TLU SA: ‘Wanfunksionele regering dryf landbou oor afgrond’

(Foto: pixabay)

Die landbouorganisasie TLU SA sê die ANC dryf die landboubedryf oor ʼn ekonomiese afgrond en die regerende party is aandadig aan die versnellende tempo waarteen die land se voedselsekuriteit vernietig word.

TLU SA se waarskuwing kom nadat Suid-Afrika nié die Wêreld-dieregesondheidorganisasie (OIE) kon oortuig om Suid-Afrika as bek-en-klouseervry te verklaar nie.

Bek-en-klouseer het aan die begin van die jaar in Suid-Afrika uitgebreek. Sedert Februarie is geen nuwe voorvalle van die siekte egter hier aangemeld nie en die departement van landbou, bosbou en visserye het in Mei verklaar dat die uitbreking amptelik onder beheer is.

“Volgens ons inligting was die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming veronderstel om twee voorleggings aan die OIE te doen,” het Johan Steyn, voorsitter van TLU SA in die Oos-Kaap, gesê.

“Die doel hiervan was om ons land se bek-en-klouseerstatus heringestel te kry. By die eerste voorlegging wou Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut (OVI) nie die serologiese resultate vrystel nie omdat die departement hom geld skuld. Met die tweede voorlegging wat nou moes plaasvind, kon Onderstepoort nie ontledings doen nie omdat geen monsters geneem is nie. Tegnici van Limpopo weier om monsters by beeste te neem omdat hulle nie oortyd daarvoor betaal word nie.”

Steyn het gesê die voortslepende uitvoerverbod het dele van die wild- en vleisbedryf bykans tot stilstand geruk. Die wolprys het binne ʼn jaar met amper 40% gedaal, maar skure is volgepak met wol wat nie uitgevoer kan word nie.

Die prys van slagvee daal deurlopend, ondanks ʼn skaarste aan slagvee weens die langdurige en rampspoedige droogte oor groot dele van die land.

Steyn het gesê die probleem wortel in die rondloperdiere vanuit Zimbabwe en ander buurlande wat na willekeur die grens oorsteek omdat die vervalle grensheinings geensins meer deur die departement onderhou óf bestuur word nie.

Hy bestempel dit as verregaande en onaanvaarbaar dat die bestaan van die grootste sektor in die landbou – die veebedryf – deur ʼn “wanfunksionele regering en sy onbekwame amptenare bedreig word”.

“Ons pleit nie vir ons voortbestaan nie, ons eis dit van ʼn regering wat veronderstel is om in diens van die burgery te wees,” het Steyn gesê.

“Sommige rolspelers in die georganiseerde landbou beveel aan dat die probleem deur middel van mooipraatjies met die regering opgelos word. Myns insiens gaan dit, soortgelyk aan die polisie wat die vernietiging van openbare eiendom bloot staan en monitor, absoluut geen vrugte afwerp nie. Daar word deur die boer belasting betaal, aan wetgewing voldoen en regulasies nagekom. In ruil daarvoor verwag ons dat die regering en sy hoogsbesoldigde amptenary hulle take pligsgetrou en doeltreffend uitvoer. Dít tot voordeel van die ganse land en ál sy mense.”

Die organisasie sê baie van die wêreldgehaltestelsels wat Suid-Afrika as leier op vele landbougebiede gevestig het, is deur bedryfsorganisasies, individue en ander in die landbou ontwikkel.

“Dié kundigheid bestaan steeds in die privaat sektor en sal, tot nadeel van die staatskas en voordeel van landbou, aangewend word. Daar is byvoorbeeld private maatskappye wat die leemte wat Onderstepoort se verval teweeggebring het, uitstekend vul deur die vervaardiging van verskeie entstowwe en ander veemiddels. Dié kundigheid sal tot voordeel van die boer aangewend word om die hele sektor weer op ʼn wenpad te plaas. Die feit bly dat die regering homself irrelevant maak,” het Steyn gesê.

“Die veebedryf dra aansienlik by tot die staatskas. Die sektor verdien waardevolle buitelandse valuta deur die uitvoer van wol, huide, vleis, wild en teelvee. Die uitvoer van feitlik al dié produkte is weens die bek-en-klouseer-uitbreking vroeër vanjaar verbied. Die veebedryf is ook een van die grootste verbruikers van mielies vir veevoer. Daarbenewens is die lewensvatbaarheid van ondernemings in die verskaffingsketting vir veemedisyne, veevoer, veehanteringstoerusting en -vervoer afhanklik van die veebedryf se vooruitgang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Boerkind ·

Dis wat my so hartseer maak. Ons pragtige plase wat die trots van Suid Afrika was. Almal ly, die boere, hul vee, plaasvolk. Tragiese storie van ons boere. My ouma was n boervrou. Gelukkig rus sy in vrede!!!

Johann ·

En dit pla die ANC kaders NOKALL! Onbevoegd, ongekwalifiseer, bloot salaris trekkers en byvoordeel misbruikers. GEEN verandwoordelikheid OF verandwoordbaarheid. GEWETENLOSE MAGSVERGRYPERS wat n eens toonaangewende land en bedryf VERWOES!

Hongersnood ·

Die regering gaan nog ten duurste betaal vir hulle besluite. Zimbabwe Se verwoesting en agteruitgang gaan soos n muggie lyk.

John ·

… die buiteland lag en wag vir die ineenstorting vir goedkoop uitvoere en tienderangse ten duurste invoere. Ons boere kan ook maar hand in eie boesem steek oor gm-graanprodukte wat hul ons mense moet eet… ook via vleis en pluimvee. Gifstowwe word mildelik aangewend vir lekker winsbejag. En binnekort eet hulle van dieselfde soort en lè siek in ons nuwe weelderige NVG-hospitale.

marous ·

Hoekom sal hulle gepla wees ? Die wildtuin het ‘n week se vleis en die winkels genoeg kos vir ‘n halwe dag . Daarna sal die Mazungus kos uit die vliegtuie gooi .

skurweberg ·

Daar is mens wat nie proaktiwiteit verstaan nie, omdat dit nie deel is van hulle lewens en wereldbeskouing nie. Dit het niks te doen met geloof nie, maar alles te doen met rentmeesterskap. Moeilike begrippe.

aj ·

Waar ‘n wil is, is ‘n weg! … die wil word die weg!

Ignoreer die spul kaders en doen dit SELF!

En weerhou jou belasting!

Carel ·

Dit is net nog ‘n voorbeeld van die triomf van Afrika sosialisme, versigtige uitgedinkte ekonomiese beleid van chaos en vernietiging, ongemerkte afdwing van Marxsisme, korrupsie, gulsigheid/hebsug en onbevoegdheid is nou besig om in SA in velheid toe te neem en is reeds buite beheer waarvoor die ANC regering en sy EFF meelopers direk verantwoordelik gehou kan word. Geweld in al sy afgryslike vorms het in hierdie eens mooi land net so n epidemie soos VIGS geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.