TLU SA het plan met almal se veiligheidsuitgawes

Sekuriteitsuitgawes raak ‘n aansienlike uitgawe op plase. Foto: Pixabay

TLU SA stel binnekort ʼn veldtog bekend wat, indien suksesvol, Suid-Afrikaners sal toelaat om enige veiligheidsuitgawes teen belasting te verhaal.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, sal in die verband genader word.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dat hulle mettertyd besef het dat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler vir veiligheid betaal waarvoor hy bittermin kry. “Daar is 59 moorde per dag en misdaad is buite beheer. Ons is reeds vuisvoos baklei en het as individue nie meer die kapasiteit om weerstand te bied nie.

“As ons almal kan saamstaan en saam die lyn trek om die staat te dwing om ons te bemagtig deur ons vir ons uitgawes te vergoed, kan ons ten einde die misdaadsituasie stabiliseer,” sê Van Zyl. “Die alternatief is dat ons elkeen net sit en wag om ʼn slagoffer van misdaad te word.”

Met betrekking tot die beoogde veldtog sê Van Zyl maatskappye kry dit reeds reg om veiligheidsuitgawes van hul produksiekoste af te trek. “Hoekom kan private persone dit nie ook doen nie? TLU SA wil dit maklik maak om jou sekuriteitsuitgawes terug te eis. Inwoners moet net rekord van al hulle uitgawes en die kwitansies hou en dit elke jaar saam met hulle belastingopgawes indien,” sê hy.

Hy glo vas Suid-Afrikaners wil nie emigreer nie, maar eerder ʼn atmosfeer skep waarin hulle en nuwe beleggers veilig kan voel.

Die veldtog word Dinsdag 23 Februarie by die organisasie se hoofkantoor in Silverton, Pretoria, bekendgestel.

TLU SA sê alle Covid-19 protokol sal by die geleentheid gehandhaaf word en diegene wat verkies om die geleentheid per Zoom by te woon, sal tydens bevestiging van die skakel voorsien word. Stuur e-pos na Aleshia Erasmus by [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek hoop dit slaag. Slaan die regering waar dit seermaak. Miskien kry hulle dan die wil om misdaad met mening te aan te pak.

Karel Kobus Kruger ·

Kan jy aan een (nie 2 nie, net 1) petisie, memorandum, brief, vergadering of vreedsame optog dink wat al gehelp het?

Frank ·

Hulle moet sommer die installasie van sonkragstelsels ook aanspreek!! Ons sit in die reëntyd in Limpopo helfte van die tyd sonder krag. Bv Saterdag 13h00 af, vanoggend 9h00 aan. Ons moet noodgedwonge na duur alternatiewe kyk. Diesel vir die kragopwekker is duur!!
EN ons moet die opsie hê om oortollige krag terug aan die krag netwerk te kan verkoop.

henndrik ·

Dit sal ook goed wees as hulle die kostes dan weer van die ANC parlementslede kan verhaal

Heinrich ·

Die regering sal dit nie toelaat nie. Hulle het geen probleem met plaasaanvalle nie anders sou hulle lankal opgetree het (praatjies beteken niks). Hulle sal ook nie so iets kan bekostig nie want hulle het eerder die belastinggeld nodig om stemme te koop d.m.v. maatskaplike toelae.

Pieter ·

Moet nie vergeet om Honde, Diefwering en Omhuinings by die lys te sit nie…
Ek is seker daar is baie ander kostes wat ons dek waarvan ons ook nie eers weet nie… Ek bedoel soos veilligheid vir die vervoer van geld kos en ander produkte. Versekering! Maatskappye wat miljoenne spandeer om inligting te beskerm… Dis alles uitgawes wat moontlik onnodig is as daar effektiewe beheer is vir was reeds betaal word.

Snowball ·

Ons moet ook nie boedelbelasting betaal wanneer die persoon dood is agv moord nie – vrotsige regering trek voordeel daaruit dat onskuldige mense vermoor word en die staat sy plig versuim om sy burgers te beskerm.

Pampoen ·

Ek is ‘n lid van die GPF en ry op eie koste straat op en straat af om ons gebied to patrolleer. Die minste wat die staat kan doen is om my toe te laat om die reiskoste van die patrollie van my inkomste af te trek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.