Toegewings vir matrikulante ná optogte

Foto: Twitter

Die Gautengse departement van onderwys het gesê daar is Maandag toegewings gemaak vir leerders wat laat was om hul Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen te skryf weens #SwartMaandag-betogings wat verkeer in die provinsie tot stilstand gedwing het.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring gesê verskeie gr. 12-leerders het laat by hul eksamenlokale in die Tshwane- en Sedibeng-area opgedaag weens dié verkeersontwrigtings. Hulle is toegelaat om wel hul vraestelle te skryf, selfs nadat hulle ná die uur afsnytyd by die lokale opgedaag het.

Ander leerders is toegelaat om by alternatiewe eksamenlokale te skryf. “Administratiewe voorskrifte sal geld vir almal wat dalk vandag se vraestel gemis het,” het Mabona gesê.

“Volgens die inligting tans tot ons beskikking is daar aan die meerderheid van leerders wat laat vir hul eksamen was die geleentheid gegee om hul vraestel te skryf en daarom verwag ons minimale uitsonderings waar leerders die vraestel gemis het.”

Verkeer op die N1-Suid in Pretoria was vir die grootste gedeelte van die werksdag ontwrig nadat ʼn konvooi van vroegoggend af stadig vanaf Sefako Makgatho-weg (Zambesiweg) in Montana beweeg het. Verkeer is ook ontwrig op die R21 in die rigting van die OR Tambo-lughawe terwyl die R24 ook geraak is. Verkeer op die N4 is erg ontwrig, asook op die R57 in die Vaaldriehoek en op die R59.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, het gesê dit is in die departement se beste belang om nie leerders te benadeel nie weens omstandighede buite hul beheer. “Dit is betreurenswaardig dat hulle hierdie eksamen onder sulke slegte omstandighede moet skryf.” Hy het leerders sterkte toegewens vir die res van die eksamen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O ne! ·

Shame… toe die klomp van die fees must fall veldtog betoog en universiteite aan die brand steek en mede student dreig..toe worry niemand of hulle laat is vir klas nie. Hoeveel studente is toe verhoed om by hulle klasse uit te kom,, maar nee dit sal nerens genoem word nie ne???
Die helfde van hulle sit klaar vir 3 jaar steeds in matriek so nog ‘n jaar sal nie saak maak nie!
Did lekker as die skoen aan die ander voet sit ne?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.