Toekoms van Afrikaans ‘in hande van sprekers’

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die drukgroep AfriForum sê dit is geen verrassing dat die omstrede beleidsraamwerk vir tersiêre instellings reeds in Januarie volgende jaar in werking tree nie en meen dit was sedert die publikasie daarvan in September verlede jaar reeds duidelik.

“Wat egter die gevolge daarvan gaan wees, sal die tyd leer. AfriForum sal die implementering daarvan moniteer om te verseker dat Afrikaanse studente se taalregte so ver as moontlik beskerm word,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

Die departement van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie het vandeesweek aangekondig die beleidsraamwerk tree oor minder as twee weke in werking en sluit Afrikaans, Khoi, San en Nama as inheemse tale uit – ten spyte van grootse pogings dat die status daarvan tot inheems verklaar moet word.

Bailey sê Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, se bewerings dat daar nog oor die inwerkingtreding van die beleid en status van die tale onderhandel kan word, was dus bloot ʼn poging om sy “ideologiese agenda te verbloem, net soos sy belaglike bewerings dat mense wat vir Afrikaanse taalregte opstaan rassiste is”.

Voor die beleidsraamwerk gepromulgeer is, was daar geleentheid vir insette en kommentaar daarop en Bailey sê die feite oor die inheemse status van Afrikaans en ander tale is toe reeds onder die minister se aandag gebring. Dit is bloot in die finale weergawe geïgnoreer.

“Die regering is bekend daarvoor dat hy historiese feite verdraai en ignoreer om sy ideologiese agenda te pas en om te verwag dat daar anders met feite oor taal gehandel sal word, sal naïef wees,” sê Bailey.

“Die realiteit is dat die toekoms van alle tale in die land in die sprekers se eie hande is. Ongeag wat min. Nzimande beweer, kwalifiseer studente in Afrikaans aan instellings soos Sol-Tech en Akademia, het Ilze Aäron vandeesmaand ’n BEd-graad ontvang wat sy deur middel van Suid-Afrikaanse Gebaretaal behaal het, het die eerste Khoikhoi-leerboek pas die lig gesien en het die eerste boek in N|uu vanjaar uit Ouma Katrina Esau se pen verskyn.

“Die verantwoordelikheid berus by die sprekers van tale om dit lewend te hou en dinamies uit te bou. As die regering nie ruimte daarvoor skep nie, moet die burgerlike gemeenskap self maniere vind waarop dit gedoen kan word.”

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê Nzimande se optrede is net nog ʼn bewys van die pad waarop die ANC-regering die land geplaas het en dat ʼn deel daarvan ʼn poging is om onderwys en opvoeding op ANC-terme te doen.

“Dit is duidelik deel van die ANC se gesentraliseerde beheptheid met magsintrek na homself om so by sy Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR) uit te kom. Dié taalbeleid is net nog ’n manier waarop die ANC dit wil deurvoer,” sê Van Zyl.

“Die ANC se uiteindelike doel is gesentraliseerde beheer in ’n sosialisme en kommunistiese stelsel.”

Van Zyl sê die ANC is op elke gebied – ekonomies en kultureel – besig om ʼn glybaan na sosialisme en kommunisme te skep en voorbeelde wêreldwyd wys dat dié stelsel nie een is wat tot almal se welvaart lei nie.

Hy het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hul geskiedenis te ken en meer te leer oor dié ekonomiese stelsel en nie alles vir soetkoek op te eet nie.

Bailey het ook ʼn beroep op mense gedoen om hul stem ten gunste van moedertaalonderrig en taalregte te laat geld.

“AfriForum het in die verlede nie geskroom om plaaslik en internasionaal stappe te doen om taalregte te beskerm en bevorder nie en sal hierdie aksies ook in die toekoms voortsit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.