Toekomsberaad gee hoop

Maroela Media het Donderdag met beraadgangers by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad gesels om uit te vind hoe hulle die beraad ervaar het. Na afloop van die toesprake, is beraadgangers weer hoopvol vir wat die toekoms vir Afrikaners en veral vir jong Afrikaners mag inhou.

Dit is wat hulle te sê gehad het:

Janlo Lategan

“Ek is positief om te hoor hoe baie Solidariteit al bereik het. Die toesprake is positief en baie goed voorbereid,” sê Janlo Lategan.

Derek Mans voel as trotse Solidariteit-werknemer dat dié dag hoopvol is: “Dit is vir my so goed om te sien ons is nie van ander mense afhanklik nie, ons bou self.”

“Ek is so positief oor al die toekomsplanne. Ons moet net as Afrikaners hande vat en die dinge in die land probeer omkeer,” sê Johan Roothman. “Ek is ook baie positief. Dit was vir my van waarde om die statistiek te hoor. Ek is trots om deel te kan wees van Solidariteit,” het Thinus Bartmann by Roothman aangesluit.

Nóg ’n Solidariteit-werknemer, Wilma Vermaak, sê sy skep ook weer moed vir die toekoms: “Daar is fantastiese planne in plek. Ons het weer hoop vir ons kinders se toekoms met die opleidingsplanne in die vooruitsig.”

Johan Roothman (regs) en Thinus Bartmann (links)

Graeme Ellis, ’n onderwyser by die Nuwe Hoop Skool in Pretoria, voel positief oor die toekoms van onderrig en veral die opleiding van jong Afrikaners: “Die toekomsberaad is ’n wonderlike inisiatief. Jy hoor altyd van die verskillende afdelings van Solidariteit, soos Helpende Hand of Akademia. Dit is lekker om nou die volledige prentjie vandag te kan sien en om te hoor van Solidariteit se toekomsvisie. Dit is belangrik vir ons as beraadgangers om ons eie toekomsvisie te kan skep op grond van wat vandag in die toesprake gesê is. Na vandag kan mense ’n beter prentjie van die toekoms skep. Hulle kan ook weer hoop skep. Die hele dag was vir my merkwaardig. Wat vir my veral uitgestaan het, is die planne wat hulle vir tersiêre onderrig het en die veertig nuwe vakke wat geakkrediteer gaan word.”

Manzo Khulu

Manzo Khulu se moedertaal is Zoeloe en hy kom oorspronklik van KwaZulu-Natal af. Hy bly die afgelope dertig jaar in Gauteng: “Ek het onlangs ’n lid geword van Solidariteit juis omrede my waardes en die waardes van die beweging ooreenstem. Ek wens ek kon meer mense betrek, veral anderskleuriges, om te wys dat Solidariteit nie alleenlik net vir witmense is nie.”

“Ek is baie beïndruk op hoe goed georganiseerd die beraad is. Dié Afrikanerbyeenkoms is weereens ’n bewys dat ons nasie wêreldklas is. Wat vir my uitstaan is hoe baie verskillende Afrikaners, van verskillende agtergronde en verskillende leefwyses, hier bymekaar is. Ek hou daarvan dat Solidariteit kan bewys hulle het die vermoë om hulle toekomsplanne toe te pas. Die universele boodskap van vandag se beraad is vir my een van hoop. As jy iets doen omdat dit ’n roeping is, is jy bereid om enige iets te doen en enige uitdagings met entoesiasme te oorkom. Ek voel my roeping is om Afrikaans aan die wêreld uit te dra deur televisie- en filmreekse, maak nie saak of mense my ondersteun of nie. Mense met dieselfde roeping trek saam, so asof ’n magneet hulle na mekaar toe aantrek. Vandag is ’n goeie bewys daarvan,” sê Yolanda Lindeque-Strauss, ’n skrywer, film- en televisievervaardiger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Mnr. Khulu, ek wens met my hele hart dat daar meer anderkleuriges soos u is. Ek kan net dink hoeveel dit vir SA se samelewing kon beteken. Welgedaan en staan vas by u waardes.

Pampoen ·

Ek dog Solidariteit en AfriForum is net vir Afrikaanssprekendes??!! ‘n Volkseie Instansie??!! Duidelik is ek mislei………

Pampoenpitte ·

@Pampoen. Net so, vir Afrikaa_nses. En in 2030 sal ons almal nét so welkom voel in daardie ankerdorpe. Wonderlike vooruitsigte inderdaad.

PC ·

Draai die Solidariteits-beweging nou hulle rug op die “ander” dorpe? As jy nou nie in een van hulle ankerdorpe bly nie, wat dan? Is daar dan nou nie meer hoop vir ontwikkeling vir jou skool kerk en gemeenskap en ekonomie nie. Met dié besluit help Solidariteit om die “ander” dorpe leeg te bloei. Daar sal van Afrikaner kant af geen meer sakevertroue of ontwikkeling plaasvind in die “ander” dorpe nie. As jy in ʼn “ander” dorp as die ankerdorpe bly is hierdie baie slegte nuus. Skuif na ʼn ankerdorp is soms onmoontlik. Dit is moeilik om ʼn stelsel te ondersteun wat sekere groepe bloot vernietig en uitsluit en dit binne die Afrikaner gemeenskap. Ek vra bloot ʼn vraag, Is die hoop wat julle hier skets nie ʼn selfsugtige hoop nie?

Christo Conradie ·

Die sekerste manier om by niks te eindig, is om n “alles of niks”- benadering te volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.