Toekomsberaad: Hoe gaan die kapitaal gemobiliseer word?

Toekomsberaad-Danie-Brink

Danie Brink van die Helpende Hand het die Helpmekaar Beweging met die Helpmekaar 2020-plan vergelyk. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging se grootste uitdaging is om dienste te lewer wat eintlik deur die staat gelewer moet word, maar sonder die belastinginkomste van ʼn staat. Vandaar die strategie om die Helpmekaar 2020-plan se vyfjaarbegroting van R3,5 miljard deur gereelde klein ledebydraes en die mobilisering van koopkrag te finansier.

Maroela Media het vroeër berig dat die belegging van R3,5 miljard waarskynlik die grootste burgerlike belegging nog in die Afrikaner-kultuurgemeenskap en Afrikaanse taalgemeenskap is. Uit hierdie bedrag sal R1 miljard rand aan Afrikaanse onderwys en opleiding toegeken word.

“Die doel van die plan is om ʼn toekoms te skep waarin ons en ons kinders vry, veilig en voorspoedig aan die Suidpunt van Afrika kan wees,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Hy sê die krag van die plan lê daarin dat dit ʼn doenplan is met meetbare uitkomste.

“Die hele strategie is gebaseer op klein bedraggies, wat saam ʼn groot verskil sal maak. Dit is soos mense in die ou dae koeksisterverkopings gehou het om ouetehuise te bou, of muntleggings vir ʼn kerksaal,” het Buys verduidelik.

Daar was in die afgelope eeu twee groot kapitaalmobiliseringsprojekte onder Afrikaners. Die eerste was die Helpmekaarbeweging en uit die gees van help mekaar het groot instellings soos Sanlam en Santam ontstaan. Die tweede was die Reddingsdaadbond van 1939 en daarmee saam Federale Volksbeleggings. Beide hierdie pogings was reaksies op ʼn bestaanskrisis van Afrikaners. Die Solidariteit Beweging-plan is die derde grootste kapitaal-mobiliseringsprojek.

“Die plan word nie gefinansier deur groot staatsfondse of bemagtigingstransaksies nie, maar deur klein bedrae van gewone mense. Ons glo ons kan meer met hierdie “toekomsbeleggings” bereik as wat die staat tans met sy reusebelastingbronne doen. Die sleutel tot sukses is om te sorg dat elke projek op sy eie volhoubaar is, deurdat die projekte so gou as moontlik selfvoorsienend word omdat elkeen ’n unieke ekonomiese ’enjin’ het wat hom aandryf. Nadat hulle selfvoorsienend geraak het, begin hulle ook in die ander projekte terugploeg sodat dit betreklik gou tot eksponensiële groei kan lei,” het Buys gesê.

Daar word reeds elke maand bydraes deur die sowat 320 000 lede van Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die FAK gemaak. Hierdie getal behoort in die volgende vyf jaar tot meer as 500 000 te groei. Solidariteit se Finansiële Dienstemaatskappy en die Virseker Trust dra reeds R13 miljoen per jaar tot die begroting van die plan by en daar word beplan om dit in die volgende vyf jaar te verdubbel.

Elke Solidariteit-lid dra ook R10 per maand by tot die Solidariteit Boufonds. Die bedrag wat per jaar hieruit gemobiliseer word, is sowat R16 miljoen. Verskeie van die projekte binne die Solidariteit Beweging-plan word uit die Boufonds gefinansier.

Solidariteit beplan ook om in die volgende vyf jaar miljoene rande se hofaksies en internasionale veldtogte teen rassekwotas te voer. Dit word moontlik gemaak deur duisende mense se maandelikse debietorders.

Ander bronne waaruit die begroting van die Solidariteit Beweging-plan gefinansier word, is skenkings, bemakings, bestaande trusts en besigheidstransaksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Arie Plaasboer ·

Uiteraard sal die fondse so ontvang waarskynlik eerstens aangewend word om dienste hoofsaaklik aan FONDSEBYDRAERS (te wete die blankes) te lewer.ate doelbewus saboteer
Ek sal geen probleem daarmee he as dienste daarna uitgebrei word na ander gemeenskappe maae met die voorwaarde dat hulle hulself gedra en nie die pogings 1. in die wiele probeer ry nie 2. die resultate doelbewus saboteer nie en 3. niks aan die brand steek nie.
Ook BEHOORT (wat nie `n voorwaarde van dienslewering moet wees nie, maar vrywillige optrede) daar dan `n getuienis van dankbaarheid te wees teenoor die blankes deur hul stem te weerhou van die ANC.

Barbara Greyling ·

Wonderlik wat Helpmekaar beoog. Sal die ANC regering nie ‘n stokkie voor die planne probeer steek nie? Ek kan nie sien dat hulle gaan still Bly oor alles nie. Ek is ‘n lid van Afriforum. Sterkte.

Nicolise ·

Solidariteit Helpende Hand is ‘n organisasie om op trots te wees. Ek is al 7 jaar die voorsitter van ‘n tak en ek weet wat hulle doen vir ander. Ek raai ieder en elk aan om ‘n besoek te gaan aflê by enige tak en betrokke te raak. Solidariteit sal altyd vir sy mense opstaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.