Toekomsberaad: ʼn Toekoms wat vry, veilig en voorspoedig is

Flip-Buys-Toekomsberaad

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Meer as 2 700 mense het Saterdagoggend by die Heartfelt-arena in Centurion versamel vir die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad. Die Beweging het sy vyfjaar strategiese plan bekend gemaak vir selfstandigheid en meetbare selfdoenplanne in die vorm van die Helpmekaar 2020-plan ter tafel gelê.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die Helpmekaar 2020-plan is ʼn werkslys, want Afrikaners kan nie meer met ʼn wenslys na die regering gaan en hoop op ʼn wonderwerk nie.

“Staatsafhanklikheid of -onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie – dit het ons ondersoeke duidelik uitgewys. Daarom behels ons voorstel ’n derde weg, oftewel ’n middelpad, en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie, maar na ons mening die enigste pad vorentoe.

Die haalbaarheid van hierdie weliswaar moeilike plan moet opgeweeg word teen die haalbaarheid en volhoubaarheid van die huidige bedeling. Daar is ongelukkig nie meer volmaakte en maklike planne oor nie,” het Buys gesê.

Volgens Buys vra baie mense hom hoe die toekoms lyk en sy antwoord is dat die toekoms gaan lyk soos die een wat mense saam gaan skep.

Die Beweging wil teen 2020 strukture uitbou om ʼn landwye Afrikanernetwerk te skep wat die vermoë het om besluite te neem en dit uit te voer. Die strukture sal help om om te sien na prioriteite soos veiligheid, noodsaaklike dienste, die omgewing, werksgeleenthede, die bevordering van Afrikaans, maatskaplike sorg en gesonde gesinne, skakeling met die betrokke owerhede, monumente, ondersteuning aan Afrikaanse skole en kinders, normalisering van die geskiedenis, media, opleiding, goeie regering, besigheidsbevordering, kapitaalmobilisering en die bevordering van goeie rassebetrekkinge

Teen 2020 wil die Solidariteit Beweging graag hierdie strukture uitbou tot ʼn landwye Afrikanernetwerk wat die vermoë het om besluite te neem en dit uit te voer.

“Ons vra nie vir die regering spesiale gunste en gawes nie, selfs welwillende verwaarlosing sal vir ons die ruimte gee om te doen wat ons moet,” het Buys gesê. Hy al die konferensiegangers wat die beraad uitgenooi om deel te word van hierdie vyfjaarplanne.

  • Die Toekomsberaad kan regstreeks op toekomsberaad.co.za gevolg word. Die volledige verslae van die Toekomsberaad se Helpmekaar 2020-plan sal ook op dié webwerf gelees kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trots ·

Ek sit self hier by dié beraad oor die toekoms van my mense, en van my kinders. Geordende trots, ek kry trane in my oë. Dankie, dankie, dankie Here vir sulke organisasies wat vir ons veg en ons plekkie hier verseker. Ek was nog nooit so trots op my volk, kultuur en taal nie. Mylpaal in ons lewens.

Theo ·

Dit maak my bly om te kan lees van die goeie opkoms, weens werksdruk kon ek self nie daar wees nie. Ek hoop in die soldariteit tydskrif sal alles neer gepen word.

Bert ·

Bou asb Maroela uit tot ‘n volwaardige koerant. Ons kan eenvoudig nie meer Netwerk 24 uitstaan nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.