Toelae vir plattelandse onnies gestaak

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Deur Bernard Chiguvare, GroundUp

Sowat 6 000 onderwysers van Limpopo sal volgende jaar nie meer ’n landelike toelaag ontvang nie en die grootste onderwysersvakbond dreig gevolglik met ’n staking.

Die skrap van die toelaag word toegeskryf aan ’n “massiewe begrotingsbesnoeiing” rakende die vergoeding van werknemers.

Onica Dederen, hoof van die departement van basiese onderwys in dié provinsie, het die jongste verwikkelinge op 30 November in ’n omsendbrief aangekondig. Die betaling van hierdie toelae, wat hoogstens R2 333,65 per persoon per maand beloop het, sal nou vanaf 1 Januarie 2022 gestaak word.

Volgens Dederen het besteding aan werknemers aansienlik toegeneem en gevolglik het die begroting “oorverhit”.

Tjebane Sowell, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) het “skok en ontsteltenis” oor dié aankondiging uitgespreek. “Hierdie eensydige stap deur die hoof van die departement is ’n uitlokking van die vakbond op die hoogste vlak en sal met ’n gepaste optrede hanteer word.” Sowell sê landelike toelae is in 2008 deur die destydse minister van basiese onderwys, Naledi Pandor, ingestel om onderwysers na afgeleë skole te lok en te behou. Tidimalo Chenue, woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê die Covid-19-pandemie het tot begrotingsbesnoeiings gelei. Die departement moes dus “R1 miljard vind om die salarisse van al die bestaande werknemers in die stelsel te finansier”.  “’n Voorsiening van R303 miljoen is wel vir die landelike toelae in 2021-’22 gemaak en daarvan is R97 miljoen oor. Weens die druk op die hele vergoedingsbegroting vir werknemers is die betalings van landelike toelae beëindig.” Die vakbond het nou die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, genader en ook nie die moontlikheid van ’n onbepaalde staking in Januarie uitgesluit nie. ’n Onderwyser van die Ndarieni Secondary School wat 50 km van die skool in Thohoyandou in die Vhembe-distrik woon, sê brandstof kos hom byna R1 200 per maand.  Die landelike toelae het baie met dié soort uitgawes gehelp.  “Van Januarie af sal ek dit nie kan bekostig om elke dag skool toe te ry nie. Om openbare vervoer te gebruik, sal werklik uitdagings skep. Dit beteken ek sal elke dag omstreeks 03:30 moet opstaan om betyds by die skool te wees. “Die staking van landelike toelae is ’n onverwagte wending. Ons skool is diep in ’n landelike gebied geleë, maar hierdie toelae het my gemotiveer,” het dié onderwyser gesê. ’n Onderwyser by die Maphophe-laerskool in die Vhembe-distrik sê die onderwysdepartement moes onderwysers tyd gegun het om aan te pas.  “Van Januarie af sal ek moontlik nie my motor- en versekeringspaaiemente kan betaal nie. Ek sien ook om na my vier broers en susters aangesien my ouers werkloos is.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

casper ·

Onderwys is die laagste van prioriteite by die ANC – Slim mense sou dalk kom verstaan wat hier aangaan !!

Elizabeth ·

Dit kos my R3000pm aan diesel. Dan het eknog nërens anders gery of gekuier nie. Dit nadat ons omtrent R2 per liter minder betaal by ñ diesel depot.

Diklizzy ·

Ek ry ‘n 3L diesel bakkie. My diesel kos my R250 – R400 per maand vir werk toe en terug met kinders by skool aflaai. Kom bly in die platteland. Daar is baie voordele.

christo ·

ANC regeerde provinsiale onderwysdepartemente wanbestee hulle begrotings. Hoë poste word geskep sodat kaders bevoordeel kan word. Dis hoogtyd dat ‘n ondersoek geloods word oor die samestelling van die topbestuur. Meeste van die ” bevoorregte ‘ amptenare se salarisse is R1 miljoen per jaar of selfs meer. Limpopo se Departement van Basiese Onderwys is een van die menigte staatsdepartemente wat nie ‘n skoon oudit ontvang het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.