Toename in aanvalle op kleinsakeondernemers kwel

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die toename in aanvalle op kleinsakeondernemers in Gauteng plaas nie net druk op die polisie nie, maar dwing kleinsakeondernemings op hul knieë wat baie noodsaak om hul deure te sluit.

Die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, het bekend gemaak dat ʼn totaal van 10 219 aanvalle, diefstalle en ander misdaad gedurende April 2019 tot Desember 2020 teen ondernemings in Gauteng aangemeld is.

Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer, het gesê die Ekurhuleni-metro-omgewing is die swaarste getref met 3 486 sake gevolg deur Johannesburg met 3 186, Tshwane met 2 160, Sedibeng met 748 en die Wes-Rand met 639.

Ondernemings wat die meeste onder diefstal deurgeloop het, is spaza-, snoep- en vulstasie-winkels asook algemene handelaars.

“Die meerderheid van snoepwinkel-eienaars dryf handel vanaf hul woonhuise en is afhanklik van kliënte wat in die omgewing woon en werk. Eienaars het in baie gevalle nie die nodige fondse om sekuriteitstelsels aan te skaf om hulle teen misdaad te beskerm nie,” voeg Hoffman by.

“Die polisie word tans verder belas met die uitvoering van die strenger Covid-19-regulasies en die taak word meestal op die skouers van die gemeenskappolisiëringforums en buurtwagte geplaas om strate te patrolleer.”

Luidens ʼn verslag van Reuters (1 Junie) het die werkloosheidsyfer in die eerste kwartaal van 2021 met 32,6% gestyg en mense gryp na enigiets om finansieel te oorleef, selfs misdaad.

Die VF Plus in Gauteng het die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, versoek om skrywes aan alle polisiekantore te rig waarin stasiebevelvoerders aangemoedig word om sigbaarheidspolisiëring toe te pas en waar nodig te help om gemeenskappolisiëringforums op die been te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Gaan sê dankie vir julle regering oor die werkloosheid en armoede en gaan vra hulle vir geld dis mos vir wie julle gestem het. Natuurlik gaan misdaad verhoog, want mense is desperaat

Anel ·

En om mense te vang wat nie maskers dra nie is groter misdaad as ‘n roof!

Johan ·

Die regering se lockdown is ook n aanval op kleinsakeondernemings, niemand sê niks daaroor nie. Hoeveel bewys moet daar nou nog wees dat lockdown s nie werk nie en tog, hier is ons, en al wat die VF+ sê is dat dit lekker streng toegepas moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.