Toename in grondeise wek kommer

Foto ter illustrasie. (Foto: StatsSA)

Die toename in die getal grondeise wat in aanloop tot 2021 se plaaslike verkiesings weer aktief verwerk word, is vir die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) ’n bron van kommer.

“Dié verhoogde aktiwiteit word weerspieël in ’n toename in plaasbesoeke deur eisers en amptenare verbonde aan die grondeisekommissie, aanbiedinge aan grondeienaars en druk om hul eiendom teen minder as markwaarde te verkoop,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid in dié proses, veral omdat grondeienaars sukkel om basiese dokumente – soos eisvorms en die navorsing oor geldigheid van eise – van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling te kry. “In die meeste gevalle wil dit voorkom of daar nooit navorsing gedoen is nie.”

Hoewel die departement en veral die grondeisekommissie die afgelope tyd herhaaldelik bloedneuse in die howe kry en verdoemende uitsprake oor gebrekkige administrasie en wanbestuur tot groot verleentheid gelei het, beur amptenare voort om grondeienaars buite die wetlike of voorgeskrewe prosesse te intimideer, beweer Saai.

Die hoofredes vir die kommer sluit in:

  • Die departement se gebrekkige begroting om die grond te koop wat hulle in die proses betrek;
  • Die stadige pas waarteen die proses gedryf word – sekere eise waarvan die grondeienaars reeds in 2002 aanbiedinge aanvaar het, is steeds nie afgehandel nie;
  • Verwagtinge wat by grondeisers geskep word dat hulle óf plase, óf finansiële vergoeding gaan kry in die geval van eise waarvan die geldigheid onder verdenking is; en
  • ’n Gebrek by die departement en veral die grondeisekommissie om binne ’n realistiese begroting die vermoë te skep om die eise te verwerk en af te handel.

Saai het by verskeie grondeienaargemeenskappe in KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo en Noordwes betrokke geraak om hulle van prosedurele en regsadvies te bedien, praktiese hulp by in loco-inspeksies te verleen en die geraakte grondeienaars in die proses te ondersteun.

“Terwyl grondeienaars individueel aan onbeholpenheid, korrupsie en wanbestuur in die departement en die grondeisekommissie uitgelewer is, is goeie organisering en kollektiewe optrede onontbeerlik om boere se belange te beskerm,” sê De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacobus ·

Gegewe die kollektiewe oneerlikheid, onbevoegdheid en ‘kannie worrie’ benadering va n die ANC is die feite hierbo nie verbasend nie.Daar bestaan goeie rekords van wat aan wie behoord maar die wil om dit te gebruik as model. Staatsgrond, trustgrond en sommer net ongebruikte landbou grond is vollop. MAAR die ANC/Lesufi werkswyse van die oorneem van produktiewe grond, skole en idees is ingeburger in die ANC. Wat absoluut tragies is, is dat binne Landbou baie bevoegde persone is om grond te identifiseer sonder om landbou op NDZ wyse te vernietig.
Dis nie net immoreel nie die krimineel en in niemand se voordeel nie. Ongelukkig is “breek wat werk” in die ANC se DNA.

JohanR ·

Elke boer in Suid Afrika moet haar/sy saak hof toe vat. Kan jy dink hoeveel jare die sake van die hofe se tyd kan opvat? Kan ek ook voorstel as die beamptes by die plaas hek aankom dat die Rotweillers los gelaat is! Waar gaan die plase opeindig….in ANC en EFF hande. Daar was die geval in Zimbabwe waar Grace Mugabe vir haar die beste suiwel plaas uitgesoek het. Weet nie of sy geweet het hoe om te melk nie, maar suiwel plaas moes sy he!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.