Die polisie in Brits, Noordwes, het ʼn waarskuwing uitgereik oor ʼn toename in kaping van vragmotors in Brits, Mmakau en Mothotlung.
Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê verskeie sake is tussen Februarie en April vanjaar aangemeld.
“In een van die voorvalle in Mothotlung op 13 April 2022, is ʼn 59-jarige vragmotorbestuurder deur sy werkgewer gestuur om goedere in Brits op te laai. Hy het ʼn selfoonnommer en ligging vir die kliënt ontvang,” verduidelik Myburgh.
Toe hy by sy bestemming opdaag, het hy die kliënt geskakel en dié het iemand gestuur om hom na die korrekte perseel te vergesel.
“Die vragmotorbestuurder en die man het na Mothotlung via Damonsville gery. Nog ʼn man het glo by hulle aangesluit wat glo aanwysings sou kon gee waar die goedere opgelaai moet word. Toe dié man egter in die vragmotor klim, het hy ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en die bestuurder gedwing om die vragmotor aan te skakel. Die bestuurder moes by ʼn begraafplaas in Mothotlung stilhou en hy is gedwing om uit die vragmotor te klim. Die verdagtes het sy hande en bene met ʼn tou vasgebind en hom van sy selfoon, bankkaart en ʼn onbekende bedrag kontant beroof voor hulle met die vragmotor weggery het.”
In ʼn afsonderlike voorval het ʼn 26-jarige vragmotorbestuurder op 16 Maart 2022 saam met ʼn kollega na ʼn perseel in Brits gery. “Toe hulle by die bestemming aankom, het drie onbekende mans hulle genader en een van hulle het met ʼn vuurwapen geëis dat hulle moet stilhou. Die verdagtes het die slagoffers vasgebind en hulle van hul selfone, bankkaarte en ʼn onbekende bedrag kontant beroof. Die verdagtes het met die vragmotor weggery.”
Myburgh sê vragmotorbestuurders word gemaan om te alle tye bedag te wees, veral wanneer hulle onbekende kliënte gaan ontmoet. “Hulle moet afgeleë gebiede vermy en eerder openbare ruimtes, soos vulstasies, gebruik.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
AI, Ai! Waar is ons pragtige land wat was? Hoe het ons hier beland waar niemand en niks meer waarde het nie?
Dis omdat meeste van die polisie nie hul werk doen nie.
Wie koop hierdie vragmotors?
Daar lê antwoord vir die bekamping van misdaad.
Straf die grootkoppe
In baie gevalle is die polisie ook hierin betrokke, dit wys net hoe korrup is die regering en die sapd.
KhoiKhoi , die diesel in die tenk die wiele en onderdele is heelwat werd,