Toenemende kommer oor integriteit van matriekeksamen

(Argieffoto)

Daar is al hoe meer kommer oor die integriteit van die matriekeksamen nadat dit aan die lig gekom het dat ʼn tweede vraestel, hierdie keer die tweede fisiese wetenskap-vraestel, ook voor die aflê daarvan uitgelek het.

ʼn Week gelede het die tweede wiskundevraestel uitgelek.

Daar is boonop kommer dat die lewenswetenskappe-vraestel, wat later vandeesweek geskryf word, ook reeds uitgelek het.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê in die jongste geval was daar nie spesifieke terugvoer van die departement van onderwys oor waar die vraestel uitgelek het nie.

“Ons sien nie ʼn sin vir dringendheid by die departement nie,” het sy gesê.

Volgens Buys kan dít moontlik wees omdat die uitlek van die vraestelle die uitslae kan bevoordeel en punte beter kan laat lyk.

“Ons is bekommerd. Dit bring die integriteit van die hele eksamen onder verdenking en benadeel die kinders. Selfs al kry hulle nou universiteitstoelating, beteken dit nie hulle is in staat om die werk te kan doen nie.

“Vir ons is die integriteit en geloofwaardigheid van die eksamen geweldig belangrik. Dit gaan oor meer as matriekpunte – leerders moet toegerus word om verder te studeer.”

Buys meen die kans is skraal dat die vraestelle by skole self uitgelek het. Vraestelle word op die oggend voor die eksamen eers na skole geneem, waar dit dan uiters goed bewaak bly totdat die eksamen begin.

Dit laat die vermoede ontstaan dat die vraestel by die departement self uitgelek het.

“Met sosiale media… as ʼn vraestel eers lek, is hy orals. Dit versprei soos ʼn veldbrand.

“Ons wil graag hê die ondersoek moet dringend en ernstig opgeneem word. As hulle diegene kry wat dit versprei, moet hulle strafregtelik vervolg word. Kinders wat kliphard gewerk het se uitslae word nou onder verdenking gebring,” het sy gesê.

Die laaste keer wat ʼn vraestel vir die matriekeksamen uitgelek het, was in 2016 en daar is sedertdien groot werk daarvan gemaak om veiligheidsmaatreëls te verbeter.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), stem egter saam dat daar rede tot kommer is.

“Die oorkoepelende bekommernis is dat die integriteit van die hele eksamen daarmee heen kan wees. As dit net een vraestel was, is daar ruimte in die eksamenrooster dat die vraestel oorgeskryf kan word – daar is steeds onsekerheid of dit gedoen gaan word – maar ek is nie seker dat daar plek in die rooster is om ʼn tweede vraestel oor te skryf nie.”

Colditz sê matrieks – asook hul ouers en onderwysers – sit nou met groot onsekerheid.

“Daar kan ook ʼn leerder wees wat níks met die storie te doen gehad het nie en steeds volpunte kry vir die eksamen. Almal gaan dan wonder is dit die resultaat van jou werk, denke en talente, of die resultaat van knoeiery.

“Dit is ongelooflik teleurstellend.”

Hy sê daar moet dalk ook gekyk word of die eksamen nie heeltemal anders benader moet word nie, veral om die uitwerking en gebruik van tegnologie in ag te neem. “Nuwe denke is nodig; nie net hoe om die eksamen te verbeter nie, maar moontlik ook om dit te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Aai ·

Die matrikulante van 2020 gaan sukkel om werk te kry met al die gemors mense gaan die jaar brandmerk as ‘n slegte jaar weens Covid-19 en dan die vraestelle wat uitlek in 2020

Chantel ·

Daar lek elke jaar eindeksamenvraestelle uit, dis niks nuuts nie! Waarom word dit nie elke jaar in die media genoem. Die matriek van 2020 het REEDS ‘n moeilike jaar en nou maak hierdie aantuigings dit net soveel moeiliker.
Die vraestelle kan net op een van 2 manier uitlek, hetsy dit by die druk daarvan is of die verpakking daarvan is.
Geld praat al vir jare met hierdie tipe van uitlek

Pierre ·

Moet ook nie vergeet nie die vraestelle word by skole gestoor tot en met die dag van die eksamen en dus heel moontlik hier waar die lek begin.

Keelvol ·

Dit word deur die departement self “uitgelek.” Want our people se mentaliteit is “you pass one, you pass all.”

Nette ·

Toenemende kommer oor integliteit van omtrent alles in Suid Afrika…

Sarel ·

Dit kan net van een bron afkomstig wees maar korruptes word deur die Regering beskerm

Phillip ·

Dis ons land die net in ons land waar dit gebuur Zupie korup eskom danel SAL almal weet geld praat maak reguit wat krom is daar is nie vinger om op tedruk waar nie koerip is nie klaar. Almal Jaag vir mamon

Alexander ·

Nou is selfs die matriekeksamen gekaap. En heel toevallig die vakke waarmee die massas mee sukkel. Ons regering beslis van die korrupste op hierdie planeet.

LANA is ELANè ·

Die regering het nog nooit omgegee om punte aan te pas om sekere mense te bevoordeel nie, waarom gaan hulle nou bekommerd wees oor ‘n vraestel of 3 wat kamtig uitlek? Niemand gaan glo dat leerlinge se punte op meriete toegeken is nie, en die hele groep matrieks van 2020 gaan gebrandmerk word as die leerders wat ‘n oopboek eksamen geskryf het.

Anel ·

As ek dit nie mis het nie, was daar vroeer jare 2 vraestelle opgestel om hierdie te voorkom.

Jakes ·

Die woord integriteit het het geen betekenis in SA meer nie. As n vis vrot is dan is hy vrot van sy bek tot sy stert. In hierdie geval is die vis die ANC en EFF. Wat n skande dat n land so ver kon val in 26 jaar.

Hennie J ·

Kom ons wees eerlik. Watse integriteit is hier ter sprake? .Die punte word in elkgeval aangepas as our people se kleintjies nie presteer nie; nasieners met die “regte houding” word met die hand uitgesoek, in besonder in sekere vakgebiede;die anc besluit wat die slaagsyfer vir die jaar moet wees en so kan ons aangaan………….

Tiny ·

Ons het die lig gesien en ‘n paar jaar gelede ons kind uit die skool stelsel uitgehaal. Ons het heeltemal vertroue verloor in die publieke stelsel nadat die skool waar sy was aan die natalse kus nie eers behoorlik ‘n sport byeenkoms kon reël nie. Voeg daarby die feit dat kinders geen respek het vir hul klas maats en onderwysers nie, en die onderwysers oënskynlik geen regte meer het om orde in klaskamers te handaaf nie. Ons kind het akademies goed gedoen, maar haar punte het agteruit gegaan nadat ons verhuis het en ons haar in hierdie (blykbaar vreeslik goeie) skool geplaas het. Ses maande later het ek haar summier in die middel van die jaar uit die skool verwyder en ingeskryf by ‘n aanlyn instansie, waar sy in my opinie ‘n hoër gehalte onderrig gekry het. Sy het nou ‘n kwalifikasie wat haar toelaat om volgende jaar aanlyn by ‘n internasionale instansie te studeer, want daar is ook geen manier wat ek my dogter na enige van die universiteite in hierdie land kan waag stuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.