Toenemende kuberaanvalle bedreig SA se internet

(Foto: Michael Geiger)

Die misbruik van domeinnaamstelsels (DNS) in die vorm van domeinname wat gekaap word, varkpos, “phishing”, botnets en skadelike sagteware is ʼn toenemende bedreiging van die bestendigheid van Suid-Afrika se internet-ekostelsel.

Die domeinbestuurder ZA Central Registry (ZACR) het Vrydag gesê die teiken van DNS-misbruik is dikwels individuele internetgebruikers wat om die bos gelei word om hul gebruikersname, wagwoorde en vertroulike finansiële inligting te verskaf; organisasies wie se domeinname as’t ware as gyselaars aangehou word; registrateurs wat gekul word om domein-eienaarskap onder valse voorwendsels oor te dra en selfs staatsdepartement wie se aanlynteenwoordigheid gekraak word.

“Stygende kuberaanvalle in die vorm van DNS-misbruik stel miljoene Suid-Afrikaners in gevaar terwyl hulle staat maak op hul internet en e-posverbindings op ʼn kritieke tyd in ons geskiedenis,” het ZACR gewaarsku.

Die nie-winsgewende organisasie bestuur verskeie Suid-Afrikaanse webdomeins.

Suid-Afrika het volgens die internasionale kuberveiligheidsmaatskappy Kaspersky Lab verlede jaar meer as 10 000 kuberaanvalle per dag ondervind.

Volgens die ZACR het die land ʼn verbasend veerkragtige en kragtige plaaslike web met talle veiligheidstelsels wat reeds bestaan.

“Nuwe bedreigings kom egter na vore wat die stabiliteit van die Suid-Afrikaanse internet bedreig. Bo-aan die lys van bedreigings is poging om domeinnaamstelsels te misbruik.”

ZACR sê ook gebruikers moet langer wagwoorde gebruik en op die hoogte bly van verskillende soorte DNS-aanvalle.

“Met meer kennis en proaktiewe plaaslike DNS-ekostelsels het Suid-Afrika die kans om betreklik ongeskonde van die groeiende internasionale bedreiging af te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

G5 toetslopie met die volle goedkeuring van die narre van popo land .

katerinadiekat ·

Ons het Kaspersky op ons rekenaars. Op my foon het ek MalwareBytes van die Playstore. Dit kos 18 rand n maand. Nog n goeie app om af te laai is Incognito. Dit kos 55 rand as n jaarlikse paaiement. Dit hou jou op hoogte van alle gevaarlike apps, nuwe Trojans en kuber slenters, en scan jou foon vir kommersiele spyware.

Lorette ·

Ons het Kaspersky gehad en was baie tevrede daarmeer. Om een of ander rede het ons nou Biddefender en dit maak my mal, blok my selfs van my bank af!Ek sê egter dankie dat ons wel iets het, want ‘n persoon in dieselfde beroep, se e-pos is gekaap en hy het skade finansiële skade gehad daardeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.