Toenemende weerstand teen stygende brandstofpryse

(Grafika: pixabay)

Die DA beplan ’n openbare veldtog uit protes teen stygende brandstofpryse, met die prys van petrol wat vandeesweek op sommige plekke na verwagting tot meer as R25 per liter gaan styg.

“Brandstof word letterlik as ʼn kontantkoei vir die regering se tesourie gebruik. Dit moet eindig,” het die DA in ’n verklaring gesê.

“Die doel van hierdie politieke aktivisme is om die regering se misbruik van brandstofpryse en oorbelasting te verwerp.”

Maroela Media het vroeër berig die DA gaan ’n brief aan die ministers van onderskeidelik energie en finansies oorhandig waarin die party eis dat algemene brandstofheffings geskrap moet word. In minder as ʼn week het byna 70 000 Suid-Afrikaners die brief onderteken.

Die DA maak in die brief verskeie voorstelle oor hoe daar ingegryp kan word. Dit sluit in ʼn voorstel om die brandstofprys te dereguleer, sowel as ʼn kwytskelding van die padongelukfondsheffing.

Die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV) sê indien die brandstofheffing geskrap word, sal sowat R90 miljard in die hande van gewone Suid-Afrikaners teruggeplaas word.

“Dit lyk of interne verdeeldheid in die kabinet in die pad van ʼn eenvoudige oplossing staan: die uitbreiding van die brandstofheffingsverligting wat voorheen aangekondig is deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, moontlik gevolg deur meer strukturele hervormings aan belasting op die beweging van mense en goedere ,” sê Gabriel Crouse, hoof van veldtogte by die IRV.

Godongwana het verlede week gesê “iets moet gedoen word” aan die dreigende verhoging in belasting, wat hy beskryf het as ʼn “stomp instrument” wat “deur voedselpryse sny” terwyl die lewenskoste in die algemeen verhoog word.

Crouse sê sonder intense en onmiddellike openbare druk om hierdie nugtere beoordeling te steun sal niks gebeur nie.

Godongwana het verlede week ook gesê terwyl sekere inflasionêre risiko’s – weens wêreldwye uitdagings buite Suid-Afrika se beheer – die land in die gesig staar, die brandstofkwessie op tuisbodem tot dié gevare bydra.

Dit beteken die bedrag geld wat vir ekonomiese ontwikkeling beskikbaar moet wees, word beperk.

“Hoe meer die regering beweging belas, hoe duurder word dit om te reis of handel te dryf, wat op sy beurt koste regdeur die ekonomie verhoog. Dit is absurd om die oplossing van ʼn probleem wat die ekonomie belemmer uit te stel en die gevaar te loop dat Suid-Afrika tot stilstand gebring sal word. Stop nou die belastingverhoging,” sê Crouse.

Die DA beplan onder meer optogte in Kimberley, Durban, Secunda, Thabazimbi, Oos-Londen, Harrismith en Potchefstroom om kapsie teen die stygende pryse te maak.

Teen laatmiddag was daar egter nog geen aankondiging oor die aanpassing van die brandstofprys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Maverick ·

Ons moet ook maar gaan voete stamp en gaan rond dans die strate voor die parlement. Genoeg is genoeg

JohanR ·

Deon – het nog nooit ‘n vol asblik gegooi nie maar daar is altyd ‘n eerste keer vir alles! Miskien moet ons dit wheelie-bins maak?

Vonkprop ·

As petrol nie so duur was nie kon ons dalk nog ‘n paar bande brand gesteek het.

Kerrie ·

Die “Taksie Industrie” is dood dood stil …. nie n piep-geluidjie nie …. darem lekker as jy nie hoef belasting te betaal nie, en jy kry nog n staats-subsidie ook daarby…… die lewe is goed.

JohanR ·

Kerrie – betaal die ANC regering nie vir die taxi’s se petrol ook nie?

Manie ·

Begin sommer om die 15% BTW op brandstof op te hef, soos wat met basiese voedsel gemaak word.

Wondermaarnet ·

Vanoggend op die nuus word aangekondig dat taxi fooie ook binnekort styg. Gaan alles nou weer afgebreek en afgebrand word omdat passasiers meer moet betaal? Laat hulle meer betaal en voel hoe dit voel om swaar verdiende geld aan die regering te betaal. As motoriste moet opdok, moet almal maar opdok vir vervoer.

Witbaard ·

Taxi bestuurders is doodstil. Is ons dalk besig om hulle brandstof te betaal?

Carina ·

Ek wens dit was moontlik dat die HELE SA môre GEEN brandstof ingooi nie en ook glad nie ry nie, niks, niemand, nêrens. Almal moet die een dag by die huis bly. Dit sal sekerlik die boodskap oordra en ‘n groot gat in hulle sakke los. Dalk sink dit idan in dat ons net mooi keelvol is vir die regering se stelery en mag speletjie.

JohanR ·

Ja ek vra ook hoe kan ns kapsie maak. Daar was eens ‘n politieke protesoptog hier in Slaapstad/TentDorp hier of voor 1990, of net na 1990, waar die stad tot stilstand gebring is met al die protes gangers. Tyd dat daar miskien ‘n miljoen man/vrou/kind/hond/oums/oupa en kuikens protesoptog gehou word in elke groot stad in SA, want in Junie gaan pertrol R28 ‘n liter word!

Nico ·

Waar is daardie olie wat verkoop is, is dit in die verkeerde sakke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.