Toerbedrog-saak: Polisiemanskieter sterf in hospitaal

ben-strydom

Ao. Ben Strydom. Foto: Verskaf

Hendrik Wright (65) wat vir bedrog ondersoek is weens ʼn vakansieslenter, is Woensdagaand in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria dood, twee maande nadat hy ʼn polisiebeampte en homself geskiet het.

Mirna von Benecke, ʼn polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê Wright is sedert die skietery wat op 24 Julie in die noorde van Pretoria plaasgevind het, in die Steve Biko-hospitaal behandel.

“Hy is in September uit die hospitaal se waakeenheid onder polisiebewaking na ʼn gewone saal oorgeplaas, maar het verlede week ʼn terugslag gehad,” het Von Benecke gesê. “Hy is omstreeks 20:00 in die hospitaal dood.”

Maroela Media het vroeër berig ao. Ben Strydom (47), ʼn speurder van die Sinoville-polisiestasie wat die bedrogsaak ondersoek het, is tydens Wright se inhegtenisneming op 24 Julie by die se huis in Montanapark doodgeskiet.

Wright het van die toneel weggejaag en is later deur die polisie op die Moloto-pad aangekeer. Hy het sy motor van die pad afgetrek, die vuurwapen op homself gerig en probeer selfmoord pleeg.

Wright, sy vrou Renette en Salome Klopper, die egpaar se sekretaresse, is almal van bedrog aangekla. Renette en Klopper is na afloop van die skietery in hegtenis geneem. Wright het ook tereg gestaan op ʼn aanklag van moord.

Die beskuldigdes van die Wrights se onderneming, Zambesi Tours & Safaris, het na bewering meestal pensioenarisse bedrieg deur toere te reël en dit dan ʼn week voor die vetrekdatum gekanselleer. Die kliënte se geld is nooit terugbetaal nie.

Renette en Klopper moet weer op 22 Oktober in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Alle vorige artikels oor die toerbedrog-saak is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

monika ·

soos jy leef so sal jy sterf. Jammer net vir die onskuldige Ben Strydom wat daarvoor moes betaal.

Sollie ·

Soos hulle sê… die wiel draai. Waarlik jammer dat iemand onskuldig moes sterf maar ja, boontjie kry sy loontjie

Andries ·

Moet asb. nooit n pesionaris verneuk of benadeel nie want jou straf is onbeskruiflik. Hier is nou weer n voorbeeld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.