ʼn 28-jarige toergids is Woensdag per helikopter na die hospitaal geneem nadat hy Dinsdagmiddag ʼn knie- en enkelbesering in die Drakensberge opgedoen het en gevolglik die hele Dinsdagnag op die berg moes deurbring.
Annine Siddall, ER24-woordvoerder, sê die man het glo naby die Fangspas, tussen die Royal Natal Nasionale Park en Cathedral-piek, geval en kon nie daarin slaag om hulp te ontbied nie. Hy was volgens Siddall vermoedelik alleen op ʼn staproete.
Nooddienste is Woensdagoggend na die toneel ontbied waarna die man na die Ladysmith- provinsiale hospitaal vervoer is.
Siddall kon by navraag van Maroela Media nié met sekerheid sê of ʼn stapper die man aangetref het en of ʼn helikopter weens weerstoestande en die ruie gebied die man eers Woensdagoggend kon red nie.
Sy kon wel bevestig dat ʼn vrywilliger-paramedikus nooddienste bygestaan het om die man te behandel en na die hospitaal te vervoer.
Meer inligting oor die voorval is nie bekend nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
2 Kommentare
Les nommer 1. Jy stap nooit alleen nie. Enige stapper met verstand behoort dit te weet. Jou eie lewe is belangrik.