Toeris toets positief ná besoek aan Krugerwildtuin

Argieffoto van die Krugerwildtuin ter illustrasie. (Foto: www.krugerpark.co.za)

ʼn Toeris wat die Nasionale Krugerwildtuin onlangs gelede besoek het, het positief getoets vir die nuwe koronavirus (Covid-19).

Laura Mukwevho, woordvoerder van die wildtuin, het Vrydag in ’n verklaring gesê ’n jong Franse toeris het positief getoets vir Covid-19 nadat hy meer as ’n week gelede tydens sy besoek aan die Krugerwildtuin simptome van die virus begin toon het.

Volgens Mukwevho is die 25-jarige toeris deel van ’n groep van ses buitelanders wat twee nagte in die wildtuin bespreek het. Die groep het die land op 14 Maart binnegekom waarna hulle op 17 en 18 Maart in Skukuza, die wildtuin se hoofruskamp, oorgebly het. Die groep het tot 19 Maart in die wildtuin vertoef.

Die man het tydens die besoek van ’n seer keel en matige koors gekla waarna hy by die wildtuin se dokter aangeklop het. Hoewel daar aanvanklik vermoed is dat die pasiënt malaria opgedoen het, het die dokter hom aangeraai om vir Covid-19 getoets te word. Die dokter het die groep se besonderhede geneem, sou hulle opgespoor moet word. Hulle het ná die toets na KwaZulu-Natal vertrek. Die pasiënt se toetsuitslae het intussen positief teruggekom.

Volgens Mukwevho is die pasiënt reeds in ’n mediese fasiliteit in KwaZulu-Natal opgeneem. Sy medereisigers is ook in selfisolasie.

Luidens die verklaring het die departement van gesondheid word gepoog om personeel op te spoor wat moontlik kontak met die groep gehad het tydens hul besoek aan die wildtuin.

“Geïdentifiseerde personeel sal 14 dae vanaf die datum van blootstelling noukeurig gemonitor word en onmiddellik getoets word, sou hulle simptome begin toon,” het Mukwevho gesê.

Volgens Mukwevho het die wildtuin se personeel baie min kontak met besoekers. Hulle volg ook die nodige higiëneprotokols om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. “Ons glo dat indien personeel hierdie veiligheidsprotokolle streng gevolg het, die kanse baie skraal is dat personeel die siekte sou opdoen.”

Alle nasionale parke is tans gesluit tydens die algehele landwye afsondering.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

So die mense het intussen na Natal vertrek en ek glo hulle het daar, en dalk langs die pad, ook met ander mense in aanraking gekom.

SO stop ons VERSEKER nie die virus nie.

Shiovani ·

Goeie dag, hoe sal mens kan uitvind wie die gaste is, vir gasthuise sodat hulle kan kyk of hulle die mense by hulle gastehuis gehad het die aand van die 19de

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.