Toeris wat by Nelspruit-troue verdwyn steeds soek

Nick Wiesmann (76) en sy vrou, Bettina. Foto: Facebook

Nick Wiesmann (76) en sy vrou, Bettina. Foto: Facebook

Die Switserse toeris, wat Saterdagaand onder raaiselagtige omstandighede tydens ʼn troue in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin in Nelspruit vermis geraak het, is steeds nie gevind nie.

Nick Wiesmann (76) en sy vrou, Bettina, het die aand ʼn troue by die Botaniese Tuin bygewoon, toe Wiesmann omstreeks 18:00 gesê het hy gaan gou ʼn baadjie in die motor haal. Hy het nie weer teruggekeer nie.

ʼn Soekgeselskap het reeds Saterdagaand na Wiesmann begin soek en die soektog is vroeg Sondagoggend voortgesit.

Albert Gryvenstein, woordvoerder van Bossies Community Justice, wat help met die soektog, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die Wiesmann’s se motor het buite die hek van die onthaalplek gestaan en sover hulle kan agterkom, is Wiesmann nooit by die hek uit nie. “Ons het die beeldmateriaal van die veiligheidskameras op die perseel al verskeie kere nagegaan en ons kan hom glad nie daarop sien nie,” het Gryvenstein gesê.

Nadat Wiesmann vermis geraak het, het die motor bly staan waar die egpaar dit vroeër parkeer het, steeds met Wiesmann se baadjie in.

“Vanoggend is hier ʼn magdom mense wat help met die soektog. Die polisie is hier met hul snuffelhonde en die polisie se duikeenheid sal in al die poele en water in die gebied soek. Beamptes van Working on Fire is hier om te help, asook verskeie beamptes van veiligheidsmaatskappye. Almal trek saam om na hom te soek,” het Gryvenstein gesê.

Hy het gesê sover hy weet, het die Wiesmann-egpaar ʼn vakansiehuis in Kaapstad, maar hulle woon steeds in Switserland. Gryvenstein het ook gesê hy is deurentyd telefonies in verbinding met die egpaar se kinders in Switserland, om hulle op hoogte te hou van die soektog.

Sers. Gerald Sedibe het aan Maroela Media bevestig ‘n saak van vermiste persone word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.