Toerisme in SA vra dat Europa ook reisbeperkings opskort

(Foto: Love South Africa/Facebook)

Reisigers se kans om die Omikron-variant van die koronavirus op te doen is net so goed in Amsterdam, Berlyn, Brussel of Parys as in Kaapstad of Johannesburg – en reisbeperkings is in die lig van dié werklikheid oorbodig.

Só skryf Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), in ʼn brief aan die hoof van die Europese Unie se afvaardiging in Suid-Afrika, Rinna Kionka. Tshivhengwa vra terselfdertyd dat alle reisbeperkings na Suid-Afrika opgeskort word.

“Hoewel ons erken dat die skielike inwerkingstelling van ʼn reisverbod ʼn vroeë noodsaaklikheid was om regerings kans te gee om die Omikron-gevaar te assesseer, doen ons nou ʼn beroep op die EU om reise tussen Suid-Afrika en die EU weer in te stel.”

Die Omikron-variant is nou reeds in meer as 50 lande opgespoor, hoewel dit aanvanklik in Suid-Afrika geïdentifiseer is.

Talle lande het ná die identifisering van die nuwe variant, wat as hoogs aansteeklik beskou word, reisbeperkings teen Suid-Afrika ingestel. Die Verenigde Koninkryk het sowat ʼn week gelede sy reisverbod teen 11 Afrikalande, ook Suid-Afrika, opgehef en die stap is wyd verwelkom.

Tshivhengwa skryf in sy brief aan Kionka toerisme speel ʼn geweldige groot rol in Suid-Afrika en die res van die streek en dat die negatiewe uitwerking wat die EU se reisverbod op die bedryf, plaaslike gemeenskappe en bewaringspogings nie oorbeklemtoon kan word nie – veral nie oor die allerbelangrike Kersvakansietyd nie.

Europese lande het verlede maand die meeste lugvervoer na Suid-Afrika en ses ander lande in die streek opgeskort.

In ʼn gewone jaar beloop die nasionale inkomste uit toerisme in Suid-Afrika sowat R285 miljard, terwyl dit 726 000 regstreekse werkgeleenthede en 1,5 miljoen direkte en indirekte werkgeleenthede ondersteun.

Die Suid-Afrikaanse toerismebedryf het sedert die inwerkingstelling van die reisverbod op 25 November in die eerste 48 uur alleen sowat R911 miljoen weens gekanselleerde internasionale besprekings verloor. Indien die reisverbod voortduur, kan die bedrag tot sowat R25 miljard opskiet, terwyl die bedryf jaarliks sowat 205 000 minder werkgeleenthede sal kan ondersteun, waarsku die TBCSA.

Tshivhengwa sê gegrond op navorsing wat die mediese fonds Discovery Health verlede week bekendgestel het, bied twee dosisse van die Pfizer-entstof steeds 70%-beskerming teen ernstige siekte weens Omikron.

Hy vra dat die reisverbod onder meer in die lig hiervan opgeskort word en vra vir ʼn dringende vergadering om die saak te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.