Toerisme-rasfonds in konstitusionele hof aangehoor

(Argieffoto: Facebook)

Die departement van toerisme se appèlsaak is Donderdag in die konstitusionele hof aangehoor. Die departement appelleer die 2021-uitspraak deur die hoogste hof van appèl in Bloemfontein, in Solidariteit en AfriForum se guns, dat die gebruik van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir die toerismefonds onwettig is.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, het in 2020 die toerisme-ekwiteitsfonds as ’n instelling bekendgestel wat slegs lenings en toelaes aan ondernemings, wat minstens 51% swart eienaarskap het, sou toestaan. Volgens Solidariteit en AfriForum is die toeken van hulpfondse op grond van ras onredelik. Die Appèlhof het dit beaam en hierdie aksie van die departement as onwettig verklaar.

“Dit is duidelik dat die staat vasbeslote is om sy rasse-agenda ten alle koste deur te voer,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit. “Die regering stel nie in redelikheid belang nie en neem geensins die eienaars van sakeondernemings of die werknemers, wat tydens die pandemie onder swaarkry gebuk moes gaan, in ag nie. Dit is hoog tyd dat regeringsamptenare besef dat hulle nie net kan maak en breek soos wat hulle wil nie en dat die belastingbetaler se geld nie onverskillig uitgegee of aangewend kan word om die ANC se ideologie te finansier nie.”

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhou by AfriForum, sê alle ondernemings, in besit van entrepreneurs van alle rasse, het gedurende die regering se Covid-19-inperkings gesukkel en talle moes noodgedwonge sy deure vir altyd sluit. “Dit spreek boekdele van die ANC-regering se wrede rasbeheptheid, dat hulle ’n wit ondernemingeienaar in die oë kan kyk en vir hom of haar sê dat hulle té wit is vir hulp.”

Van Zyl sê dié sistemiese rassediskriminasie van die ANC-regering moet tot ’n einde kom. “Genoeg is genoeg. Daarom veg Solidariteit en AfriForum met alles wat ons het om te verseker dat hierdie monster van rasdiskriminerendewette, vir altyd verslaan word.”

Van der Bijl meen die kriteria vir die fonds is doodeenvoudig rassisties. “Die staat kan dit as transformasie probeer verbloem, maar hy het lankal sy ware kleure gewys. Dit is uiters laag om die skade wat die regering met sy onredelike Covid-19-inperkingsregulasies aan die toerismesektor berokken het, nou uit te buit om teen mense te diskrimineer. Ons is gereed om vir so lank as wat dit verg teen hierdie diskriminasie te baklei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

Diskriminasie is onwettige, kaders wil of kan dit nie verstaan nie.

christo ·

Ramaphosa predik gereeld die belangrikheid van toerisme vir werkskepping. Die ANC se rassisme is ook net ‘n dun lagie vernis. Die ANC minister se optrede beklemtoon net die rassistiese beleid van die regering.

Jacob ·

Moet ons die wereld inlig oor die dodelike gevolge van SEB, moontlik die lig werp op die lewensgevaarlike toestande wat heers op Suid Afrikaanse paaie, mense wat aangeval en vermoor word by “lodges”, die toename in moorde, diefstal wat die orde van die dag is, ens? Moet ons uitwys dat ‘n regter “bepaal” het dat “Kill The Boer” maar ‘okay’ is en ons boere dikwels deur rassistiese “wetsdienaars” in hegtenis geneem word wanneer hulle hulle eiendom beskerm? Moet ons die wereld inlig oor hoe ons natuurlike bronne soos mariene lewe uitgeroei word, in sommige gevalle deur gewettigde slagting van onder andere haaispesies waarby, ek verstaan, ‘n ene Patel in die Ooskaap betrokke is? Moet ons die ware rolspelers in renosterstropery aan die kaak stel en uitwys dat die enigste wat die spesie nog kan red, privaat eienaars is? Kom ons kyk dan hoeveel wil die SEB Suid Afrika nog besoek en nie liewer Botswana of Namibiё, ens nie.

Marius ·

Ek wonder wat sal die mense se of doen as belastinggeld net aangewend word vir die mense wat betaal?
Ek reken dat die wat wel belasting betaal die meeste se het wat moet gebeur met die fondse , wat 99% wit mense is of is ek verkeerd ?

Willem Hendrik ·

Slegs geringe oligarge trek voordeel uit SEB en kan die stelsel nie suksesvol wees waneer ongskoolde mense dit implimenteer en beheer. Swak onderbou laat die struktuur weldra inmekaar tuimel.

Chris ·

Ek is hierdie week aangekla weens rassisme. Die klag: Ek het in samewerking met ander belanghebbendes ñ fonds gestig ten einde ondernemings in my dorp wat ook asg Covid swaar trek, finansieel te ondersteun. Die enigste voorwaarde was dat slegs ondernemings wat in blanke besit is, kon kwalifiseer.
Die fonds is onmiddellik na die aanklag ontbind met die gevolg dat 7 ondernemings in blanke besit hul deure moes sluit. Die hartseer is egter dat bykans 30 swart werknemers in hierdie ondernemings werkloos was. Met bykans 120 gesinslede wie nou geen inkomste het nie. Met die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika wat net toeneem en toeneem. Dan word daar nie eens gepraat van potensiele belasting- inkomste wat die staat verloor nie.
Maar wanneer narre die land regeer, moet ons seker maar aanvaar dat dit in n sirkus sal ontaard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.