Toerisme-rasfonds wél onwettig – hof

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Die appèlhof in Bloemfontein het Woensdag in sy uitspraak verklaar dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriterium vir die departement van toerisme se hulpfonds onwettig is. Die uitspraak, tesame met ’n kostebevel, is teen die departement gelewer.

Regter Plasket het in die hof gesê die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het ’n regsfout begaan en sy is nie wetlik verplig, soos sy aangevoer het, om geldelike bystand op grond van SEB-vereistes toe te ken nie.

Die departement het verlede jaar die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) bekendgestel om finansiële bystand aan klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO’s) tydens die tydperk van algehele afsondering te gee.

Luidens die fonds se kriteria kan slegs ondernemings wat swart eienaarskap van minstens 51% het, in aanmerking kom vir lenings of toelae van dié fonds, wat sowat R1,2 miljard sterk is. AfriForum en Solidariteit het aangevoer dat hierdie kriteria nie wetlik of rasioneel is nie.

Volgens AfriForum en Solidariteit is die uitspraak ’n oorwinning vir elkeen in die toerismesektor wat weens hul velkleur nie vir die fonds in aanmerking gekom het nie.

“Solidariteit en AfriForum het volgehou dat die virus nie sy slagoffers op grond van velkleur kies nie en dat die regering nie die reg het om volgens hierdie kriteria te kies wie hy sal help nie. Ons kon die regering se growwe uitbuiting van mense in nood net nie toelaat nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

“Die toerismesektor het swaargekry onder die regering se drakoniese inperkingsmaatreëls. As die regering dan nog teen mense wil diskrimineer op grond van hul ras, wys dit net dat die departement van toerisme sy prioriteite in orde moet kry.”

Van der Bijl meen dis hoog tyd dat regeringsamptenare besef hulle kan nie maak en breek soos hulle wil nie, asook dat die belastingbetaler se geld nie onverskillig uitgegee of aangewend kan word om die ANC se ideologie te finansier nie. “Ministers en hul onderskeie departemente word ook onderwerp aan die wette van hierdie land en sal ook tot verantwoording geroep word indien hulle nie daaraan gehoor gee nie. Ons sal aanhou om as waghond op te tree en nie huiwer om hierdie onregte aan te raak nie.”

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, sê die hofuitspraak stel dit duidelik dat die minister ’n fout in haar vertolking van die Rampbestuurswet gemaak het. “Dit kan wees dat die minister se regsadviseurs onbekwaam is, of dat sy presies geweet het wat sy doen en steeds gekies het om teenstrydig met die relevante wetgewing teen mense, op grond van hul velkleur, te diskrimineer.”

Die uitspraak van regter Plasket vervang die vorige uitspraak wat op 6 April verlede jaar in die guns van die departement gelewer is. AfriForum en Solidariteit het teen die uitspraak geappelleer en die saak is elektronies op 25 Augustus verlede jaar aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Nou toe nou , wil jy nou meer.
Dit is belaglik dat alles in die land in die hof uit gewys moet word.

Jackie

Bly oor die uitspraak, maar wat gebeur nou. Al die wit besighede wat deur die platkop minister benadeel is behoort nou bevoordeel word..

JM

Die afgelope 27 jaar al “retaliate” die ANC-regering met alle mag teen die blanke burgers in hierdie land, maar laasgenoemdes se belastinggeld word rojaal misbruik vir hul rassistiese beleid.

Dries

Hoe op aarde kan daar gesê word sy het n fout gemaak. Dit is nie n fout nie. Dit is met opset gedoen. Die ANC doen als in hulle vermoe om die blankes met opset te na te kom. Asb.

Otto

So….wanneer gaan die regering nou aangekka word van rassisme?!. Hulle is SO gou om die deuntjie te speel as daar blankes betrokke is!..