‘Toerisme-rooilys net so irrasioneel soos ander afsonderingsregulasies’

Stad Kaapstad het Donderdagoggend die eerste internasionale vlug, ʼn Emirates-vlug van Doebai, terug verwelkom by Kaapstad- internasionale lughawe. Die vliegtuig het net ná 13:00 geland (Foto: Stad Kaapstad)

Die Demokratiese Alliansie het gesê hy ondersteun die Wes-Kaapse regering se besluit om met die minister van toerisme en die president in gesprek te tree oor die lys lande wat toegelaat word om na Suid-Afrika te reis.

Die DA is van mening dat die lys in sy huidige formaat “absoluut belaglik” is.

“Toeriste wat byvoorbeeld negatief getoets het vir Covid-19 en die regering se Covid-19-app afgelaai het, moet nie as ʼn gesondheidsrisiko beskou word en teen gediskrimineer word net omdat hulle ʼn sekere nasionaliteit is of van ʼn sekere land afkomstig is nie,” het Manny de Freitas, die DA se skaduminister van toerisme, in ʼn verklaring gesê.

“As al die behoorlike gesondheid- en veiligheidsprotokol by lughawens, op vliegtuie en in restaurante en hotelle in werking gestel is om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, dan behoort dit die risiko van ʼn tweede golf infeksies in Suid-Afrika tot ʼn groot mate te beperk.”

Maroela Media het vroeër berig dr. Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê die regering sal sy eie vlak van koronavirus-risiko gebruik om te bepaal watter lande as hoë-, medium- of lae risiko beskou kan word. Die DA versoek dat die data wat gebruik word om te bepaal watter lande hoë risiko is, publiek gemaak moet word.

“Die regering se kommerwekkende neiging tot magsvergrype spoel nou oor op ʼn internasionale vlak met sy irrasionele verbod op sekere lande. Dit blyk dat die lys nie op enige feite of data gebaseer is nie. Net soos met ander Covid-19-regulasies en -besluite lyk dit of lande na willekeur op die lys geplaas word sonder dat die moontlike negatiewe impak op Suid-Afrika se ekonomie en toerismebedryf oorweeg word.”

De Freitas het gesê dit is irrasioneel dat vakansiegangers van Suid-Afrika se grootste markte nie toegelaat sal word om die land se grense binne te kom nie. “Hoekom word slegs sakereisigers met skaars en kritieke vaardighede, onder wie diplomate, gerepatrieerde persone, beleggers en mense wat aan professionele sport- en kulturele geleenthede deelneem toegelaat? Is hulle wonderbaarlik immuun teen Covid-19 en nie toeriste nie?”

Hy het gesê Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, het byna niks gedoen in die stryd vir die lewensbestaan van diegene wat in haar bedryf werksaam is nie. “Sy is blind en doof vir hul vrese en realiteit. Dit is moontlik omdat sy nog nooit haar portefeulje of die bedryf verstaan het nie.”

De Freitas sê die minister is uit voeling met die bedryf wat sy dien.

Die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) het intussen gesê hy verwelkom dat die land se internasionale grense oopgemaak is, maar versoek ook dringende konsultasie met die regering om te begryp watter metodologie gebruik word om die lys van hoërisikolande te bepaal.

“Ons is bly dat internasionale grense uiteindelik oopmaak sodat die toerismebedryf kan hervat, ʼn bydrae kan lewer tot die ekonomie en poste kan red. Dit is waarvoor ons al so veel maande lank vra,” het Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van TBCSA, gesê.

“Dit is egter noodsaaklik dat die regering dringend met die privaat sektor vergader om die metode te verduidelik wat gebruik word om die lys van hoërisikolande te bepaal en die praktiese uitvoering van die gefaseerde heroopmaak van die grense, sodat dit ondersoek kan word en die lewensvatbaarheid daarvan bepaal kan word.”

Tshivhengwa het gesê dit is veral omdat daar nie enige openbare gesondheidsrede bestaan om reisigers van enige land te verbied nie, indien daar voldoen word aan toetsingregulasies en -protokol.

Die regering het gesê hy sal elke twee weke die lys van lande hersien.

Tshivhengwa het bygevoeg die aard van toerisme beteken dat ʼn gefaseerde oopmaak van die grense dit baie ingewikkeld maak om besprekings te hanteer. “Dit is absoluut onprakties om elke twee weke die lys van hoërisikolande te verander. Toeriste moet reisreëlings tref. “Dit gaan dinge baie ingewikkeld maak en verwarring veroorsaak as die lys van lande elke twee weke gaan verander, en dit gaan die besprekingsiklus ontwrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adriana ·

Sien China is nie op die lys van die lande wat nie mag inkom, so hul is nie ñ gevaar, maar hul het dit begin. Die hele wêreld moet hul sommer verban in hul lande,maar SA sal nie dit doen, want dis waar hul altyd bakhand gaan staan vir geldelike hulp, hul bedmaatjies.

Pieter ·

Daai water het riool in hulle gaan nou siek word van iets anders

MCL ·

Soos al die regulasies wat deur anc gemaak is, maak die ook nie sin nie. Maak nie saak van watter land af jy invlieg SA toe nie, as jy n covid sertifikaat het wat negatief wys kan jy mos inkom dan nie?

gatgogga ·

Dit begin vir my lyk asof ons regering dalk stupid is? Ek wonder maar net – kan nie seker wees nie.

Mariana ·

Verbaas geensins, hulle het nog nooit enige besluite geneem wat sin maak nie. Magsbeheptheid, ministers deurdink nooit enige besluite en nagevolge daarvan nie. Ramapoza ook nie juis in beheer van sy onderdane nie. Elkeen maak soos hulle wil. Intussen gaan die land met ‘n verblindende spoed ten gronde. Is dit dalk die oogmerk? Is dit wat die ANCwil hê? “Cut your nose off to spite your face” Hulle gaan nog spyt wees, baie spyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.