Toerismebedryf: ‘Flou verskoning’ oor polisiegeweld aangebied

‘n Betoging in Kaapstad oor die afsonderingsregulasies wat die gasvryheidbedryf lamlê.

Die burgerregteorganisasie AfriForum neem met misnoeë kennis van die verduideliking van lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, oor die onnodige hardhandige optrede teen lede van die toerismebedryf in Julie.

AfriForum het op 24 Julie 2020 ’n brief aan Matakata gerig waarin dié organisasie redes versoek vir dié hardhandige behandeling nadat lede van die toerismebedryf vreedsaam betoog het, maar die SAPD hulle met ’n waterkanon, traangas en knalgranate uiteengejaag het.

Ná verskeie aanmanings aan Matakata om ’n verduideliking te verskaf, het sy eindelik op 27 Augustus in ’n brief verduidelik dat alle samekomste – buiten sekere uitsonderings – kragtens regulasie 37 van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 verbied word. Die toerismebedryf se samekoms word nie in die lys van uitsonderings vervat nie, aldus Matakata.

“Alle deelnemers het gesigmaskers gedra, sosiale afstand van ten minste 1,5 m gehandhaaf en vreedsaam betoog,” het Thomas van Dalen, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek, in ʼn verklaring gesê. “Niemand het in enige stadium hulself wangedra of eiendom en lewens bedreig nie. Tog het die SAPD dit goed geag om ’n oormaat geweld te gebruik om die groep uiteen te jaag.”

Volgens Van Dalen het grootskaalse grondgrype en betogings tydens dieselfde tydperk reg oor die Kaapse metropool plaasgevind en het die SAPD in ’n mindere mate hierteenoor opgetree – en soms glad nie.

“Die SAPD se optrede tydens dié vreedsame optog – waar deelnemers as sagte teikens geïdentifiseer is – in teenstelling met hul huiwering om op te tree wanneer mense se eiendom en lewens deur kriminele en gewelddadige elemente bedreig word, dui op swak opleiding en ’n gepaardgaande onvermoë om wet en orde te kan handhaaf. In die lig hiervan neem AfriForum met misnoeë kennis van Matakata se flou verweer en verwerp haar stelling dat die gebruik van ’n waterkanon in hierdie geval deel van die gebruik van minimum geweld uitmaak.”

AfriForum gaan genl. Khehla Sithole, die nasionale kommissaris, nader om te verneem of hy met die Wes-Kaapse kommissaris saamstem dat haar hantering van die omstandighede die begrip van “minimum geweld” ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Dis oor die polisie vrye teuels gegee is tydens die lockdown gemors en kan nie eers onderskei tussen reg en verkeerd nie! Hulle is mos bo die wet en verwag 400% verhoging. Hulle kan loop tsek

Pieter ·

Hoekom gebruik die SAP nie traangas as cosatu toi toi nie.

Villie ·

Vlou verskoning REGTIG vlou. Terwyl die water kanonne en traanrook ingespan is in Kaapstad het chaos geheers in Pretoria waar munisipale werkers geweldadig betoog het, eiendom beskadig het en rommel in die strate gesrooi het, met min of geen optrede deur die SAPS nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.