Toerismebedryf vry nou na plaaslike besoekers

(Foto: LoveSouthAfrica/Facebook)

Die toerismebedryf steier steeds en die algehele inkomste vir die sektor het met 72,9% gedaal in vergelyking met dieselfde tyd ʼn jaar gelede.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het vandeesweek sy jongste syfers oor die stand van die land se verblyftoerisme bekend gemaak en dit skets weereens ʼn droewige prentjie van die verwoesting wat die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperkingstyd in die eens florerende bedryf gesaai het.

Hiervolgens het die getal toeriste wat in hotelle oorbly met amper die helfte gedaal. Daarom, meen kenners in die bedryf, is dit nou die gulde geleentheid vir plaaslike toeriste om munt te slaan uit andersins onbekostigbare toeristebestemmings.

Die inkomste uit akkommodasie het in Januarie op ʼn jaargrondslag met 71,2% gedaal, die gevolg van ʼn daling van 58,1% in die getal verblyfeenhede wat verkoop is, asook ʼn daling van 31,2% in die gemiddelde inkomste wat uit só ʼn nag se verblyf verdien is.

In Januarie vanjaar het alle soorte verblyf ʼn groot negatiewe inkomstesyfer op ʼn jaargrondslag getoon. Die grootste daling in inkomste is aangemeld deur hotelle (-77,3%) en sogenaamde ander akkommodasie (-61,5%).

Inkomste uit akkommodasie het met 62,6% in die drie maande tot Januarie vanjaar gedaal, in vergelyking met dieselfde tydperk ʼn jaar tevore. Ook in hierdie geval was die grootste bydrae tot die daling hotelle (-67,3%) en “ander akkommodasie” (-55%).

Die algehele inkomste wat in Januarie vanjaar uit oornagverblyf verdien is, is net meer as R630 miljoen, ʼn bedrag wat ʼn jaar tevore – voor die uitbreking van die pandemie in Suid-Afrika – op sowat R2,1 miljard gestaan het.

(Foto: LoveSouthAfrica/Facebook)

Terwyl talle Suid-Afrikaners volgens StatsSA oënskynlik steeds tuis bly en maar daar hul sente omdraai – en die bedryf nie op buitelandse besoekers kan steun nie – staan hotelle grootliks leeg.

Volgens StatsSA was die besettingskoers van hotelle in Januarie ʼn skamele 14,8% waar dit in Desember verlede jaar minstens op 26% gestaan het.

Woonwaparke en kampeerterreine het ʼn besettingskoers van 19,7%, gastehuise en -plase se besettingskoers staan op 15,2%, terwyl ander akkommodasie op 29,6% die beste vaar.

Die gemiddelde besettingskoers vir die algehele bedryf was maar 18,8% en die inkomste wat in Januarie vanjaar in die algehele bedryf verdien is, staan op R1,1 miljard.

Die syfers gee ʼn aanduiding van die enorme skade wat ʼn jaar lange afsonderingstydperk aan die bedryf aangerig het en plaaslike reisigers word deesdae al hoe meer met heelwat spesiale aanbiedinge gelok.

(Foto: LoveSouthAfrica/Facebook)

Gerrilene Fouché, bemarkingshoof van LekkeSlaap, sê daar is vir seker ʼn hernieude fokus op plaaslike toerisme.

“Ons sien veral dat instansies soos luukse hotelle en lodges hul tariewe aansienlik aanpas om Suid-Afrikaners se sak te pas om sodoende toegang tot die plaaslike mark te verkry,” sê Fouché.

Luukse verblyf of bestemmings wat vantevore vir die gewone Suid-Afrikaanse salaristrekker net ʼn droom sou wees, is sedertdien ook meer binne bereik.

“Hoewel daar ʼn groot getal verblyfplekke in Suid-Afrika is wat hulle voorheen grootliks op hoë inkomstegroepe en buitelandse toerisme toegespits het, sien ons dat baie van hierdie plekke nou hul tariewe aanpas om die gemiddelde Suid-Afrikaanse gesin te lok,” sê Fouché.

Sy sê daar is boonop reeds ʼn groot getal verblyfplekke wat reeds vir gemiddelde Suid-Afrikaners voorsiening maak en veral in die selfsorgmark is daar duisende sakpas-opsies landwyd.

ʼn Afslag van meer as 30% op verblyf – soms word akkommodasie teen selfs die helfte van die normale bedrag aangebied – is nou glad nie ongehoord nie.

“Dit is nou die ideale tyd vir Suid-Afrikaners om van die groot aantal spesiale tariewe gebruik te maak om vakansie-ervarings te geniet wat nie noodwendig voor die pandemie in hul prysklas sou val nie,” sê Fouché.

Fouché sê hoewel daar enkele groot hotelgroepe in Suid-Afrika is wat oënskynlik ʼn kleiner verlies ly as hulle eerder heeltemal gesluit bly terwyl daar steeds ʼn gebrek aan buitelandse besoekers is, is dié instellings in die minderheid.

Sy sê wanneer huidige syfers met dié van 2019 vergelyk word – verlede jaar hierdie tyd het die inperkingstyd reeds gegeld – is dit verbasend om te sien dat daar nou ʼn toename in besprekings ondervind word.

“Hoewel ons besprekingsyfers vir Desember en Januarie effe laer vergelyk, sien ons dat Februarie en Maart aansienlik hoër besprekingsvlakke toon as in 2019.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Barbara ·

Ordentlike Vakansie verblyk is te duur vir ons Suid Afrikaners. Dalk moet hul dink aan n spesiale pryse vir Suid Afrikaners

Sarel ·

Kry vir julle…gedurende die Goue jare mies die Binnelandse besoeker drur hulle nek betaal omrede voorsiening gdmaak was vir die Internasionale besoekers.
Toerbus diesrlfdr

Alet ·

Stem saam. Soveel plekk in ons pragtige land wat ons eie burgers nie eens kon besoek nie weens buitensporige pryse.

Francois Le Cochon ·

So, toe dit goed gegaan het was pryse so hoog dat die gemiddelde SA’ner doelbewus uitgesluit was. Nou dat dit sleg gaan, vry hulle na die gemiddelde SA’ner se geld.

Jaco ·

Ek kan verstaan dat wit toeristebesighede seker maar moet swaarkry en toemaak, want dis mos maar deel van die ewige “straf” vir apartheid. Ramaphosa het mos gesê inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. MAAR wat ek nie verstaan nie is dat swart toeristebesighede ook moet swaarkry nie. Ek weet daars ‘n noodfonds vir hulkr, maar dit gaan nie vir ewig hou nie. Hoeveel kan dit nou ook uitbetaal? Sekerlik nie elke maand se inkomste uit die tye voor inperking nie.

Pietertjie ·

Moenie vergeet van AA en BEE se bydrae tot die onbekostigbaarheid nie. Maak die prys hoog genoeg, en die klante verdwyn…

Snowball ·

Party sal hard moet vry – ek onthou nog so ‘n hele paar jaar terug was daar ‘n bekende restaurant in Hermanus, so by die inloop van ‘n rivier (mense wat daar bly sal weet) waar Suid Afrikaners so stief en styf behandel was, so amper asof jy ‘n oorlas was, terwyl die (destydse) eienaar die vreemdtaliges behoorlik blinkgelek en aan hulle lippe gehang het.
Gelukkig nou nuwe eienaars wat almal ewe onopgesmuk en vriendelik behandel, maar mense vergeet nie sommer nie en plekke met so ‘n reputasie gaan dalk hulle eie bitter medisyne proe…

Elize ·

Dis hoog tyd dat die gewone burger ook die prag en praal van ons eie land kan geniet.

Roedolf Johannes ·

Laar hulle vir hulle kry die meestste plekke se instandhouding is in elk geval pateties.Die Kruger Wiltuin se instandhouding val ook uitmekaar.So gaan dit ook met die jag bedryf.

Chris ·

Jy moet nooit in jou lewe sê “fonteintjie uit jou drink ek nooit weer nie”. Ons stap een dag in ‘n bekende wynkelder se ontvangs area in. Ons word half ignoreer en uiteindelik is daar toe ‘n dame wat ons bedien. Sy was om die minste te sê baie stug en afsydig. Ons het toe ons uitstap die toerbus sien stilhou. Toe besef ek die onderneming is nie vir die plaaslike plebs en ploerte nie. My paar Rande sal beslis nie hul finansiële rug gebreek het nie. Wat jy saai sal jy maai.

Racheltjie Debeer ·

Dis alles goed en wel dat verblyf pruse gedaal het om dit vir SA’ners makliker te maak om te reis, maar wat van die toegangsgelde van besienswaardighede??
Ons gesin wil baie graag in die Kaap gaan toer vir die komende vakansie, maar toegang tot Robineiland is R400 per persoon, Tafelberg se kabelkar kos R380 per persoon, die Hart Museum by Grootte Schuur is R389 per persoon en so kan ek aangaan.
Waarom word hierdie pryse nie ook verlaag vir SA’ners nie?? Ons wil net so graag soos die buitelanders ons land verken, maar dis onmenslik duur!
Maroela, kan julle nie bietjie ondersoek instel na hierdie saak nie??

JohanR ·

Soe kom die $ toeriste weer terug en die prys om in ‘n hotel te bly daan dubbel of truppel weer op, dan is EK weer as ‘n SA burger uitgesluit om saam met familie ‘n neweek in ‘n hotel te gaan geniet. Hoekom maak dit nie aanloklik vir SA paspoort houer om enige tyd ‘n redelike goedkoop naweek iewer te spandeer. Ons moet betall met die useless Rand en nie Ponde, Uro’s en Dollars nie!

Anoniem ·

Moenie nou kom bakhand staan na ons vir dekades lank uitgebuit is nie. Ek weier volstrek om op enige besprekings platvorm akkommodasie te bespreek, ek wil self met die eienaar onderhandel.

Alleen Wolf ·

Dis nie die pandemie se skuld dat die bedryf in die nood is nie maar kan vierkantig voor die magsbehepte anc regering en die wat hulle inperkings maatreels so gelate aanvaar se deur gele word.
En diesulkes wat ons suid afrikaners vir so lank uitgebuit het kan gerus maar vir hulle kry

Chantel ·

Ek sê telkemale ons het so ‘n mooi land, maar ek kan nie daai plekke besoek nie weens die onbekostigbare hoë pryse wat die plekke vra. Hulle bedien slegs die oorseese besoekers en dink glad nie aan hulle eie landsbewooners nie. Dan praat ek nie eers van die belaglike pryse wat ons SA’ners moet betaal in die Kaap wnr ons daar is vir vakansie nie. Dis belaglik!! Ek het vriende wat daar bly en sy sê dat dit verstommend is hoe die pryse gedurende, veral die Desember-vakansie, net eenvoudig gelig word en dan daarna weer na die normale prys gevat word. Hoekom sal mens jou eie lands se mense so uitwis. Iewers moet die wiel mos draai

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.