Toerismefonds-regsaksie: Dis oorlogsverklaring, sê ANC

Pule Mabe (Foto: Pule Mabe/Facebook)

Die ANC het Solidariteit en AfriForum se regsaksie teen die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF)  as ʼn oorlogsverklaring teen “transformasie” en ʼn “inklusiewe ekonomie” bestempel.

Solidariteit en AfriForum het die hooggeregshof in Pretoria genader in ʼn poging om die departement van toerisme en sy minister, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, te dwing om die TEF vir alle toerismeondernemings oop te stel.

Pres. Cyril Ramaphosa en Kubayi-Ngubane het verlede jaar die TEF bekend gestel as ʼn instelling wat finansiering aan toerismeondernemings in swart besit verskaf tydens die Covid-19-inperking. Slegs ondernemings wat minstens 51% swart eienaarskap het, kwalifiseer vir lenings of toelae uit dié fonds.

Om transformasie en ander rasse-ideologieë te midde van ʼn pandemie, wat ʼn bedryf verwoes het, te dryf, is onverskillig teenoor die nood van die einste toerismesektor wat die minister getaak is om te ondersteun, voer Solidariteit en AfriForum aan.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het die vakbond en burgerregte-organisasie as “regse formasies” afgemaak en hul pogings om Kubayi-Ngubane se transformasiepogings om te keer ten sterkste veroordeel.

Volgens Mabe het die TEF ten doel om die toerismesektor, wat swaar deur die Covid-19-pandemie getref is, te laat herleef en groei en werkskepping te stimuleer.

“Dit is betreurenswaardig dat AfriForum die neiging het om die rassekaart in te span om progressiewe ingrypings te demoniseer wat bedoel is om die histories gemarginaliseerdes te ondersteun en te bemagtig om aktiewe deelnemers aan die ekonomie te word.”

Die ANC bly volgens Mabe onwrikbaar in sy verbintenis tot die radikale transformasie van alle sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die TEF is ʼn baanbrekersinstrument vir bemagtiging wat verdedig moet word deur almal wat belangstel in ʼn inklusiewe ekonomie wat almal bevoordeel.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit)

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in reaksie op die ANC se verklaring gesê uitspraak in die saak is voorbehou en dat dit lyk of die ANC baie bekommerd is dat sy rassefonds dalk volgens die ondergeskikte howe onwettig is.

“Rassetransformasie is mos die hoogste reg. Dit troef alle ander wette. Alle ander regte kan tydens die pandemie ingeperk word, maar nie ras nie – o nee, dit is onbeperk,” het Hermann gesê.

“Suid-Afrika is mos ʼn rassestaat waarbinne die Grondwet ʼn plekkie (weliswaar ondergeskik) het. As jy hierdie hoogste rasreg uitdaag, is dit bykans gelyk aan verraad.

“Die virus het nie op grond van ras gediskrimineer nie. Almal is swaar getref, maar die fonds diskrimineer op grond van ras.”

Volgens Hermann sal Solidariteit en AfriForum voortgaan om die ANC se “rasmalheid” te beveg. “Ons sal dit op plaaslike forums, in die howe, by ambassades, ander regerings, die Europese Unie en in die Verenigde Nasies doen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Wel Done!!! AfriForum.

Misky

Dis lankal oorlog en teen ONS BLANKES, Mr Mabe.

Dankie Solidariteit en Afriforum!!!

Rooikoos

Hoe lekker kry ek. Kry vir julle ANC!

Stefaan

Hê hê hê. dit is al wat julle ken. Niks is verniet nie. As jy iets wil hê moet jy dit verdien .

Pieter

Daar is al lank ‘n oorlogsverklaring van die ANC/EFF teen ons. Watter toerisme potensiaal is daar in Suid Afrika? Alles word afgebrand en vernietig en meeste paaie is vol slaggate , jy kan nêrens veilig kom nie of word na jou rit aangeval.