Toerismeraad ontbind ná Tottenham Hotspur-fiasko

Patricia De Lille, minister van toerisme (Foto: Departement van toerisme)

Patricia de Lille, minister van toerisme, het Woensdag bevestig dat die Suid-Afrikaanse Toerismeraad (SAT) ontbind is.

De Lille sê sy het die voorsitter van die raad, dr. Thozamile Botha, op 6 April 2023 skriftelik versoek om redes te verskaf om nie die raad te ontbind nie.

Sy het in dié skrywe verskeie ernstige besware aangeteken soos die gedrag van die raad wat betref die Tottenham Hotspur-borgskap, die samestelling van die raad en of die lede oor die nodige kennis, ervaring en kwalifikasies beskik en ernstige bewerings wat deur die waarnemende hoof van SA Toerisme aangeroer is oor ʼn raad wat gebrekkig funksioneer.

Sy het versoek dat Botha haar teen 18 April 2023 moet antwoord, maar het nog steeds nie enige terugvoer ontvang nie.

“Ek kan wel bevestig dat agt van die elf raadslede, insluitend die voorsitter, tussen 7 en 13 April 2023 bedank het,” het De Lille in ʼn verklaring gesê. “Die oorblywende drie lede van die raad kan dus nie ʼn kworum vorm nie en die raad is dus nie meer funksioneel nie. Onder alle omstandighede glo ek daar is goeie rede om die raad te ontbind en ek sal dit amptelik deur die Staatskoerant doen op 21 April 2023.”

De Lille sê sy sal ook in die Staatskoerant ʼn aankondiging maak oor die aanstelling van drie persone om die sake van die raad te behartig totdat ʼn nuwe raad saamgestel is.

Tottenham Hotspur (Foto: SAT)

Manny de Freitas, die DA se skaduminister oor toerisme, sê die ontbinding van die raad is ʼn tree in die regte rigting. “ʼn Nuwe raad is die ideale geleentheid vir die SAT om nuut te begin. Die nuwe raad moet uit lede bestaan wat die nodige ervaring, kennis en belangstelling het in toerisme, en nie spesifieke korporatiewe belange nie.”

De Freitas sê buiten die Tottenham Hotspur-fiasko het die raad ook die afgelope paar jaar R2,5 miljoen aan hulself spandeer. “Dit is uitstekende voorbeelde van hoe ʼn kwessie nié getakel of hanteer moet word nie, waar die belange van toerisme en die bedryf hoegenaamd nie die fokus was nie.”

Ondanks die ontbinding van die raad is De Freitas steeds van voornemens om die moontlikheid na te jaag van ʼn parlementêre ondersoek oor die Tottenham-borgskap. “Daar is nog steeds vrae wat onbeantwoord bly oor hoe dié saga so ver gevorder het.”

Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa (die bedryfsliggaam vir hotelle, restaurante en toerisme-ondernemings), het ook De Lille se besluit verwelkom. “[Die minister] het herhaaldelik die moontlikheid van toerisme benadruk as ʼn sterk katalisator vir ekonomiese ontwikkeling en werkskepping. Sy het in haar optrede gewys dat sy daartoe verbind is om dit ʼn realiteit te maak.”

Anderson sê Fedhasa ondersteun De Lille in haar aksie om die staat en privaat sektor saam te bring om toerisme na Suid-Afrika te dryf. “Hoe meer suksesvol ons hiermee is, hoe meer poste en gasvryheidsondernemings kan geskep word. Toerisme moet die geleentheid kry om gestand te doen aan sy belofte as een van Suid-Afrika se sleutel-uitvoere.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blikkies ·

‘n Sokker Borg. Ai, Daai ‘Genius’ wat daai borg uitgedink het, Ek glo nie hy het gedink nie. Wonder of dit dieselfde knaap is wat op die TV die aand van die borg bekendstelling so bohaai gemaak het op die verhoog saam met ene L Sisulu oor hoeveel miljoene toeriste dit na SA gaan lok. Ek kan nie glo dat mense op daardie vlak van beheer so eenvoudig kan wees nie, En dit word toegelaat… Dit is nie net Pateties nie, dit is ‘n skande.

JohanR ·

Elkeen van daai toerismeraad het groot geld in die bank verwag, en toe dit nie gebeur was daar geen rede om meer rond te hang.

Niklaas ·

Daardie slinkse en hardwerkende persoon wat agter hierdie kranksinnige gedagte sit , het duidelik gehoop op ‘n gawe som geld wat stilletjies terug betaal word as blyk van waardering (lees “Africa Salute”). Nou is alles van die baan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.