Toerismeraad versoek dat grense oopgemaak word

OR Tambo- internasionale lughawe (Foto: ANA/verskaf)

Die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) het versoek dat internasionale grense oopgemaak word, dat die visumreëls verbeter word en versoek beter veiligheid vir toeriste.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die TBCSA, het gesê die toerismebedryf het die mag en vermoë om Suid-Afrika se sukkelende ekonomie weer aan die gang te kry, maar hy gaan meer as ondersteuning van Suid-Afrikaners benodig en die regering gaan die groen lig moet gee dat grense weer mag oopmaak.

“Die aankondiging dat Suid-Afrika se BBP tydens die tweede kwartaal met 51% gedaal het, plaas die fokus op maatreëls wat vinnig in plek gestel moet word om die ekonomie aan die gang te kry wat voor die Covid-19-pandemie reeds in ʼn verknorsing was,” het Tshivhengwa gesê.

Volgens PWC se openbare en privaat groei-inisiatief (PPGI)-verslag vir 2019 is toerisme die bedryf in die land wat die grootste potensiaal het om inklusiewe ekonomiese groei en indiensneming te stimuleer en kan die grootste bydrae lewer wat betref indiensneming, groei en uitvoerpotensiaal.

“Toerisme vereis in dié geval geteikende ekonomiese stimulasie en gunstige beleidsbesluite sodat dit kan floreer en al hoe meer poste geskep kan word. Toerisme se bydrae tot indiensneming word na raming groter beskou as die individuele bydrae van landbou, motorvervaardiging, chemiese vervaardiging en mynbou en sowat 1,5 miljoen mense word direk en indirek deur die bedryf in diens geneem.”

Toerisme het in 2018 sowat R120 miljard bygedra in buitelandse valuta uit internasionale besoekers, sowat 8,7% van Suid-Afrika se uitvoere – die grootste naas mynbou. “Dit bied ook ʼn lang verskaffingsketting vir bedrywe soos motorvervaardiging, landbou, brandstof en ander vervaardiging. Vir elke R1 van direkte BBP-impak, word R1,50 spandeer op aanskaffingsketting en kapitaal – wat aan talle klein ondernemings ʼn geleentheid bied. Toerisme kan Suid-Afrika se ekonomiese reddingsboei wees, maar slegs indien internasionale grense binnekort oopgemaak word,” het Tshivhengwa bygevoeg. “Ons doen ʼn beroep op die regering om ons grense veilig oop te maak. Ons bedryf is gereed, ons hulpbronmarkte staan gereed om te reis, so kom ons red poste en die ekonomie.”

Tshivhengwa het gesê die raad se Travel Safe-Eat Safe-protokol en programme, wat deur die Wêreld Reis- en Toerismeraad (WTTC) goedgekeur is, is in die toerismebedryf ingestel wat verseker dat die bedryf veilig kan hervat. “Alhoewel belanghebbendes in die bedryf saamstem dat die oopmaak van plaaslike grense ʼn reddingsboei sal verskaf, kan dit nie die bedryf volhoubaar ondersteun nie. Dit is noodsaaklik om ʼn datum te verskaf wanneer internasionale grense weer sal oopmaak indien toerisme die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn hupstoot moet gee – nie net sodat internasionale reise beplan kan word nie, maar ook sodat lugdienste Suid-Afrika op hul skedules kan behou.”

Tshivhengwa het gesê indien lugdienste besluit om hul vliegtuie te herontplooi of hul skedules verminder, sal dit ʼn direkte impak hê op plaaslike handel en toerisme. “Die veilige oopmaak van Suid-Afrika se grense is ʼn noodsaaklike stap vir toerisme om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer tot die regering se inkomste. Elke dag wat ons internasionale grense gesluit bly, verloor ons sowat R336 miljoen se inkomste en die regering verloor noodsaaklik belastinginkomste. Deur die toerismebedryf oop te maak, sal ʼn direkte en onmiddellike positiewe impak hê op die staatskoffers in ʼn tyd waar dit noodsaaklik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Die anc dink seker die wêreld staan tou om dïe korrupte gewelddadige rassistiese moorddadige landjie van ons te besoek

Johan ·

Party keer wil nuuskieriges kom kyk hoe is dit moontlik dat iemand vanuit n gehuggie kan aanbeweeg tot in Houghton sonder enige akademiese kennis. Hulle wil kom kyk wat is loadshedding, korrupsie en BEE, woorde wat hulle nog nooit van gehoor het nie.

Fritz ·

Volgens die Statista webwerf het 16.65 miljoen toeriste SA in 2019 besoek. En volgens Wikipedia was die samestelling van die top nie SADC lande soos volg:
VK 19%
VSA 13.9%
Duitsland 12.0%
Frankryk 6.0%
Nederland 5.7%
Ausralië 4.6%
Maar hoekom nou toelaat dat feite n mens se swartgallige uitkyk op die lewe beïnvloed? Of hoe?

Trotse Boervrou ·

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is 100% dat grense moet oopmaak maar hoe hulle dink hulle die ekonomie gaan red sal net hulle weet. Johan, ek stem saam met jou.
Niemand wil hul geld mors op hierdie ashoop van die wêreld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.