Toeriste in Struisbaai gered

Langezandt in Struisbaai (Argieffoto: http://www.southafrica.to/)

Langezandt in Struisbaai (Argieffoto: http://www.southafrica.to/)

ʼn Kamma-reddingspoging van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Saterdagmiddag in die werklikheid verander toe twee toeriste van Nederland by Struisbaai in die Wes-Kaap in die moeilikheid beland het.

“Die span was besig met roetine-opleiding toe hulle twee dubbel-seekajakke in die see opgemerk het,” het Reinard Geldenhuys, stasiebevelvoerder van NSRI Agulhas, in ʼn verklaring gesê. “Die span het ʼn kamma-reddingspoging uitgevoer en, sonder dat die roeiers daarvan bewus was, in hulle rigting beweeg. Net voor hulle by die twee kajakke uitgekom het, het hulle die ‘reddingspoging’ laat vaar.”

Daar was twee mans op een van die kajakke en ʼn man en ʼn vrou op die tweede kajak.

Volgens Geldenhuys was die seetoestande ʼn twee meter kalm see. “Die bemanning is omstreeks 15:50 ontbied na berigte dat ʼn seekajak ongeveer twee seemyl van Struisbaai omgeslaan het,” het hy bygevoeg. “Ons seereddingsvaartuig I&J Rescuer IV het reageer en, tot ons verbasing, was dit dieselfde roeiers wat onbewus vroeër deel was van ons oefening.”

Die man en die vrou kon hulle kajak weer regop omkeer in die water, maar hulle was albei in die water en het aan die kajak vasgeklou.

“Ons seereddingsvaartuig Spirit of Winelands het ook reageer en terwyl die man en vrou op I&J Rescuer gered is en hul kajak uit die water gehaal is, is die twee mans op die tweede kajak met die Spirit of Winelands veilig na die kus gebring.”

Die egpaar het nie verdere behandeling benodig nie.

“Hulle is almal van Nederland met vakansie in Suid-Afrika,” het Geldenhuys bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.