Toeriste ʼn dag ná Kersfees aangeval, beroof

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie het Saterdag ʼn massiewe soektog van stapel gestuur nadat buitelandse toeriste die dag ná Kersfees in Phalaborwa in Limpopo aangeval en beroof is.

ʼn Groep van minstens drie gewapende mans het Donderdag 26 Desember omstreeks 20:00 by ʼn vakansiehuis op ʼn kleinhoewe in Siloque, Phalaborwa, ingebreek. Volgens brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het die verdagtes nege buitelandse toeriste met vuurwapens aangehou en hulle van waardevolle items beroof. Dié items sluit in tien selfone, ʼn skootrekenaar, juweliersware en kontant ter waarde van meer as R5 000.

Die verdagtes het van die toneel gevlug in die slagoffers se gehuurde Mercedes-Benz ML. Die kar is later verlate in die bosse langs die hoofweg in Siloque, ongeveer 10 km vanaf die toneel, gevind.

“Gevolglik het die polisie in Phalaborwa ʼn massiewe soektog na die verdagtes van stapel gestuur. ʼn Span speurders is ook ontplooi om die verdagtes op te spoor en vir hul dade te laat boet,” sê Naidoo.

Die nasionale polisiekommissaris het net ʼn maand gelede met die direkteur-generaal van toerisme ooreengekom dat die twee departemente beslissend sal optree teenoor misdadigers wat toeriste kwaad aandoen. “Die ooreenkoms sluit in ʼn verhoogde polisieteenwoordigheid in gebiede waar misdaad hoogty vier en die opleiding van toeristemonitors as polisiereserviste wat moet help om toeristebestemmings te beveilig,” sê Naidoo.

“Hierdie stappe bewys dat die regering uiters besorg is oor die veiligheid van toeriste wat ons land besoek. Daarom doen ons ʼn ernstige beroep op die Suid-Afrikaanse samelewing om te mobiliseer teen oortreders wat hierdie afskuwelike misdade pleeg,” sê genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris.

Enigiemand met inligting oor dié jongste misdaad kan die polisie se hulplyn by 086 00 10111 skakel of inligting verskaf deur middel van die MySAPSApp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.