Toeriste red Welkom-seun uit see

Foto: NSRI

Foto: NSRI

Drie Australiërs het ʼn seun van Welkom in die Vrystaat van moontlike verdrinking in die see by Jeffreysbaai gered.

Rieghard Janse van Rensburg, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Jeffreysbaai, se vrou, Eidie, het gesien hoe ʼn seun in die moeilikheid beland en het hulp ontbied.

Lede van die Jeffreysbaai-NSRI is ontbied. ʼn Kind het kort nadat die span in kennis gestel is van die voorval uit die see gekom en geskree dat sy vriend onder die water verdwyn het.

Terwyl die span nog op pad was na die toneel het drie Australiese branderplankryers die seun gered. Mitchell Ellis, Nate Searle en Luca Stevenson het gesien hoe die 15-jarige tienerseun in die moeilikheid beland. Hulle kon daarin slaag om hom uit die water te kry en na die strand te bring.

Hy was in ʼn ernstige toestand en Eidie het onmiddellik mediese hulp ontbied. Die NSRI se noodpersoneel het die seun op die toneel behandel vir hipotermie en uitputting.

Hy is suurstof toegedien terwyl daar op die Oos-Kaapse nooddienste gewag is. Die seun is na ʼn hospitaal geneem en is tans in ʼn stabiele toestand. Hy sal onder waarneming bly vir sekondêre verdrinkingsimptome. Die seun se vriend is ongedeerd.

Daar word verwag dat hy volkome sal herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marie ·

Baie bly dat hy veilig is en dat daar darem een storie is met ‘n wonderlike einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.