Toeriste stroom weer na Wes-Kaap

Meer as 1,7 miljoen mense het die 43 gewildste besienswaardighede in die Wes-Kaap se ses streke in Januarie en Februarie vanjaar besoek. (Foto: Pixabay)

Die Wes-Kaap bly een van die gewildste toeristebestemmings ter wêreld en het vanjaar weer groot getalle besoekers gelok.

Volgens die maandelikse toerismeverslag, saamgestel deur die Wes-Kaapse regering se agentskap vir handel, belegging en toerismebevordering (Wesgro), het meer as 200 000 buitelandse reisigers in die eerste twee maande van die jaar by die Kaapstad Internasionale Lughawe aangekom.

Dit is die hoogste syfer die afgelope vyf jaar.

Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in dié provinsie, sê mense wat gewilde besienswaardighede in die provinsie besoek het, het ook met 20% vergeleke die vorige jaar toegeneem.

Meer as 1,7 miljoen mense het die 43 gewildste besienswaardighede in die Wes-Kaap se ses streke in Januarie en Februarie vanjaar besoek. (Foto: Pixabay)

“Dit is net nóg wonderlike nuus vir die [toerisme]bedryf omdat ons weet dat meer toeriste ook meer werksgeleenthede in die provinsie beteken.”

Die verslag wys verder uit dat die aantal buitelandse tweerigtingpassasiers (294 443) wat in Februarie deur die Kaapstad-lughawe se deure gestap het, met 14% vergeleke dieselfde tydperk verlede jaar toegeneem het. Januarie se syfer was 13% hoër as die vorige jaar.

Binnelandse tweerigtingpassasiers (576 000) het met 14% in Februarie 2024 toegeneem.

Die meeste buitelandse besoekers (92%) wat in Februarie in Kaapstad aangekom het, is van lande buite Afrika, terwyl 8% van verskeie Afrika-lande na die provinsie gereis het.

Die meeste buitelandse besoekers het van die Verenigde Koninkryk na die Wes-Kaap gereis, gevolg deur Duitsland, die VSA, Nederland en Frankryk.

Wat besoekers uit Afrika betref, is Namibië en Zimbabwe die voorlopers.

Dís wat besoekers die graagste wou sien:

(Foto: Sanparks – Table Mountain National Park/Facebook)

Meer as 1,7 miljoen mense (plaaslik en van die buiteland) het die 43 deelnemende besienswaardighede in die Wes-Kaap se ses streke in Januarie en Februarie besoek.

Die gewildste trekpleisters in dié twee maande was loshande die Tafelberg Nasionale Park (641 486), Tafelberg-kabelspoor (227 511), Tafelberg Nasionale Park: Kaap die Goeie Hoop (199 781), Tafelberg Nasionale Park: Boulders (171 754) en Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin (136 422).

Daar was in die eerste twee maande van die jaar ook aansienlik meer besoeke aan die Stony Point Eco Venue (476% groei), Grootvadersbosch Eco Venues (386% groei), De Hoop-natuurreservaat (188% groei), Gamkaberg-natuurreserevaat (135% groei) en die Kogelberg-natuurreservaat (130% groei).

Die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad. (Foto: Facebook)

Wenger sê dié besoeke beteken ook baie vir die provinsie se ekonomie.

“Data van SA Toerisme wys dat elke 100 buitelandse besoekers aan Wes-Kaap, R2,1 miljoen genereer, R500 000 tot die provinsie se BBP bydra en twee plaaslike werksgeleenthede skep.

“Dit is hoekom hierdie voortdurende goeie prestasie sulke goeie nuus is vir ekonomiese groei en werkskepping in die provinsie en Suid-Afrika.”

Dié sukses het egter nie oornag gebeur nie, maar danksy die harde werk en toewyding van die plaaslike toerismebedryf, die provinsiale regering en verwante vennote asook die “nuuskierigheid en vertroue van toeriste”, aldus Wenger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

Ja dit is net jammer dat ons locals dieselfde hoë pryse in die restaurante ens. moet betaal

Sandra ·

Dis ‘n skande dat die toeriste so uitgebuit word by besienswaardighede soos Boulders, Kirstenbosch, Tafelberg, ens. Selfs oorseese pensioenarisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.