Toesighouer by hospitaal skuldig aan bedrog, korrupsie

hospitaal

Argieffoto: Erkan Utu/Pexels.com

’n Voormalige toesighouer by die voorraaddepartement van ʼn hospitaal in die Oos-Kaap is in die handelshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan bedrog, korrupsie en geldwassery.

Baxolile Ngoloyi het gedurende sy tyd by die Bhisho-hospitaal in Bhisho die Oos-Kaapse departement van gesondheid uit meer as R357 000 bedrieg.

Ngoloyi het skuldig gepleit op aanklagte van korrupsie, vyf aanklagte van bedrog en vier aanklagte van geldwassery.

Anelisa Ngcakani, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die departement het die Logistieke Inligtingstelsel (LOGIS) gebruik vir die verkryging van goedere en dienste. Ngoloyi het saam met ander personeellede gewerk om betalings aan verskaffers te verwerk.

Ngoloyi het egter tussen Desember 2017 en Junie 2018 met Sithembile Smith, direkteur van Eza Services and Suppliers, ʼn konstruksiemaatskappy in Cookhouse, saamgespan om Eza se bankrekening te gebruik om bedrieglike betalings vanaf die departement te maak.

Ngoloyi het voorgegee dat Eza Services and Suppliers dienste aan die departement lewer en R357 268 is so aan die maatskappy uitbetaal.

Ngoloyi het erken dat hy die betalings op LOGIS bedrieglik verwerk het deur die gebruikersname van ander personeellede te gebruik wat gewoonlik deel was van die proses om betalings te verwerk. Hy het ook erken dat hy ’n gedeelte van die geld wat aan Eza Services and Suppliers betaal is, aan Smith as vergoeding gegee het.

Die hof het die pleitooreenkoms aanvaar en Ngoloyi is skuldig bevind aan bedrog, korrupsie en geldwassery.

Smith het in Augustus verlede jaar skuld beken op aanklagte geldwassery waarvoor hy ’n vyf jaar opgeskorte vonnis opgelê is. Hy het ook ʼn staatsgetuie geword.

Ngoloyi word op 3 Mei gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.