Toestel help teen renosterstropery

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

Verklik-tegnologie het die aantal renosters wat in die Nasionale Krugerwildtuin gestroop word, met bykans 60% verminder.

Die maatskappy ShotSpotter, wat dié betrokke tegnologie bied, het Donderdag in ’n verklaring gesê die Krugerwildtuin het in die jaar voor ShotSpotter se dienste in dié wildtuin aangewend is, altesaam 12 renosters weens stropery verloor.

“Sedert die implementering van ShotSpotter 18 maande gelede is daar egter net vyf renosters in hierdie gebiede gestroop.” Luidens die verklaring is verskeie stropers ook gedurende dié tyd in hegtenis geneem, deels weens die gebruik van die betrokke verklik-tegnologie.

Die maatskappy verduidelik dat die grootte van die Krugerwildtuin dit vir veldwagters moeilik maak om stropers op te spoor en vas te trek. Verklik-tegnologie maak dit egter moontlik om die presiese ligging van waar geweerskote afgevuur is, binne 60 sekondes ná ‘n skoot vas te stel.

“Ons kan nou meer as 50% van stropers binne die dekkingsgebied onderskep,” het Ken Maggs, hoofveldwagter in die Krugerwildtuin, in die verklaring gesê. Dit beteken stropers slaag net in helfte van die strooptogte wat hulle aanpak.

Die departement van omgewing, bosbou en vissery het vroeër vandeesmaand aangekondig dat renosterstropery in Suid-Afrika in 2019 vir vier agtereenvolgende jare afgeneem het. Altesaam 596 renosters is verlede jaar in die land gestroop vergeleke met 769 renosters in 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mariana ·

Inderdaad goeie nuus. Daar sal maar altyd die wees wat hul pond vleis uit onskuldige dier….en mens wil kry. Gelukkig is daar ook meer en meer mense wat omgee wat van ons ou wêreld word. Dankie vir al hul pogings om hierdie kriminele te fnuik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.