Toestel in moskee is wél ʼn bom

Die Imam Hussain-moskee. Foto: Reaction Unit South Africa

Die Valke het bevestig dat die toestel wat Sondagaand in die Imam Hussain-moskee in Verulam in KwaZulu-Natal gevind is, wel ʼn bom is.

Maroela Media het Sondag berig die moskee asook verskeie huise rondom die moskee moes om veiligheidsredes ontruim word nadat die toestel, wat aan ʼn selfoon verbind was, gevind is.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, provinsiale woordvoerder van Valke in KwaZulu-Natal, het Maandag gesê die Valke het intussen met lede van die polisie se bomeenheid vergader wat die toestel Sondagaand verwyder het.

“Die beamptes het bevestig dat die toestel ʼn bom is. In dié stadium analiseer die eenheid nog die toestel om presies vas te stel waarvan dit gemaak is.”

Volgens Mhlongo is die voorval “vreemd” omdat die moskee deeglik deursoek is ná Donderdagaand se aanval waartydens een man dood en twee gewond is.

“Die moskee is Donderdagaand deursoek en is Vrydag weer deursoek en die toestel is nie opgemerk of gevind nie,” het Mhlongo bygevoeg.

Bheki Cele, die minister van polisie, het die moskee Sondag besoek.

Mhlongo het gesê die moskee is Saterdag gedeeltelik skoongemaak en niks is gevind nie. Sondag is skoonmaakwerk voortgesit, waarna die toestel agter die kansel gevind is.

“Ons is besig om verklarings van mense te neem om vas te stel hoekom die toestel nie vroeër opgemerk is nie. Dit veroorsaak verwarring en lei die aandag van die ander ondersoek af, waar ons steeds na drie verdagtes soek vir moord en poging tot moord.”

Maroela Media het vroeër berig drie mans, volgens berigte moontlik van Egipte, het Donderdag op dieselfde moskee toegeslaan en drie slagoffers, almal in tradisionele kleredrag, met messe aangeval.

Die twee slagoffers wat die aanval oorleef het, is as Moulana Ali Nchinyane en Muhammad Ali geïdentifiseer. Die derde slagoffer, Abbas Essop, is in die aanval dood.

Tydens dié aanval het die verdagtes verskeie vertrekke in die moskee, insluitend die biblioteek, met petrolbomme aan die brand gesteek en toe van die toneel gevlug.

Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie. Die polisie het ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

Die verdagte toestel (Foto: Reaction Unit)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

thinus ·

Uhmmm, wat anders kan dit wees? Dalk ‘n selfoon met reuse bystand battery ?
nee wat : of bom of valse bom, maar geen ander logiese verklaring!

marous ·

Die bom was daar , maar eintlik nie want ons het gekyk toe was hy nie daar nie , maar eintlik moes hy daar gewees het want hy is daar gekry , en nou ….is ons verward

Spy-Spy ·

Kom ons hoop maar ons SAPS kan die skuldiges kry via die simkaart se registrasie inligting. Elke simkaart moet mos deur die RICA proses gaan voor dit werk. Dit is mos hoe RICA aan ons verkoop is testyds – om te help met misdaad bestryding.

Wonder ·

Hi Spy-Spy RICA om misdaad te bekamp? Watter misdaad? Hier is mos geen misdaad in SA nie. Jy hoor mos wat sê die regering. (Ek bedoel die towenaars) Die dossiers verdwyn soos mis in die son. En so kan ons aangaan. Ons sal nou sien wat met die saak gebeur. Gaan dit ook verdwyn?

Frieda Summers ·

Hoe vinnig word die saak aan gewerk en moorde gaan nog steeds aan op plase, Moedersdag, vroue & kinders en niks kom daarvan! As polisie iemand dalk kry is hulle uit op parool en einde van saak. Wat n absolute klug hier in SA.

Anni ·

Inside job mnr Polisie … hoe anders??? As jul dan so deeglik gekyk het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.