Toetse bevestig derde cholera-geval in SA

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Mediclinic Suider-Afrika/Facebook)

’n Derde geval van cholera is vandeesweek in Johannesburg aangemeld. Dié pasiënt is die eggenoot van die eerste bevestigde pasiënt en die swaer van die tweede bevestigde pasiënt nadat dié twee susters cholera tydens ’n onlangse besoek aan Malawi opgedoen het.

Toetse het nou bevestig dat die derde pasiënt óók cholera opgedoen het. Dié man het reeds Saterdag mediese hulp gesoek weens diarree en ontwatering en is in ’n hospitaal opgeneem.

Die Gautengse departement van gesondheid het egter teen Woensdag gesê die man is in ’n stabiele toestand.

Die departement doen nou opnuut ’n beroep op Suid-Afrikaners om hul naaste gesondheidsfasiliteite te besoek indien hulle ligte tot ernstige en waterige diarree en dehidrasie beleef.

“Ons doen verder ook ’n beroep op lede van die publiek om behoorlike handhigiëne toe te pas. Dit sluit in die deeglike was van hande met water en seep voor en ná die gebruik van ’n badkamer en wanneer kos voorberei of geëet word.”

Maroela Media het vroeër berig die twee susters het in Januarie per bus na Malawi gereis om ’n begrafnis by te woon. Hulle het op 20 Januarie teruggekeer na hul woning in Johannesburg, waarna hulle simptome begin toon het.

Cholera is ’n akute bakteriële infeksie. ’n Uitbreking kom gewoonlik voor in gebiede met onvoldoende sanitasie of toegang tot skoon drinkwater en veroorsaak gewoonlik erge diarree.

Die bakterie word hoofsaaklik versprei deur besmette water en mense kan direk aansteek deur die water te drink, of indirek deur besmette kos te eet. Pasiënte ervaar gewoonlik ligte simptome, maar in sommige gevalle kan dit ernstig en lewensbedreigend wees.

Die departement sê nou hy het reeds die nodige uitbrekingsreaksiespanne geaktiveer en werk tans saam met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die nasionale departement van gesondheid om die land se cholera-gevalle te monitor.

Cholera is nie endemies in Suid-Afrika nie en die laaste uitbreking was in 2008-’09, toe omtrent 12 000 mense siek geword het. Die siekte het destyds van Zimbabwe na Limpopo en later ook Mpumalanga versprei.

Die inkubasietydperk wissel van ’n paar uur tot vyf dae, gewoonlik twee tot drie dae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Met die oop grense en die toestroming van mense uit Afrika is dit ‘n wonderwerk dat siektes ons nog nie uitgewis het nie.

VaalDonkie ·

Drink ‘n klomp water en eet gesond en jy sal sommer gou-gou oor die Cholera kom. Of moet ons nou weer “lockdown” en gif inspuitings kry vir dit?

marius ·

Riool oorstroom hierdie hool orals. Wat dink die sotte gaan die gevolge wees ?

Pietertjie ·

Heng, dis ‘n 50% toename in slegs drie weke. Pandemie, as julle mý vra!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.