Toetsing by Denel-aanleg hervat

Die toneel by die Rheinmetall Denel-depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap (3 September 2018). Foto: Phando jikelo/African News Agency

Die toetsing van ammunisie is Maandag by die aanleg van Rheinmetall Denel Munition (RDM) by Somerset-Wes hervat.

Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, het gesê dit is vir hom belangrik om die gemeenskap, presies ʼn week ná die dodelike ontploffing by die aanleg waarin agt mense hul lewe verloor het, in te lig dat die toetsing voortgaan.

“Die gemeenskap kan dalk geluide hoor weens ammunisietoetsing wat op ons aangewese toetsperseel plaasvind, en ek wil hê hulle moet weet dat dié geluide normaal is en dat hulle nie bekommerd moet wees nie, ” het Schulze gesê.

Schulze het gesê RDM verstaan die gemeenskap is steeds getraumatiseerd ná verlede week se gebeure en juis daarom wil die maatskappy alles moontlik doen om sensitief ten opsigte van mense se vrese op te tree.

“Ons rou steeds oor die groot verlies in ons gemeenskap en moet mekaar ondersteun. So, as maatskappy wend ons elke moontlike poging aan om deursigtig met die gemeenskap te wees oor wat op die aanleg aangaan,” het Schulze gesê.

Hy het bygevoeg die name van die oorledenes sal eers bekend gemaak word ná die identifiseringsproses afgehandel is én in oorleg met die individuele gesinne wat geraak is.

Maroela Media het vroeër berig werknemers was besig om dryfmiddels vir artillerieladings te meng toe die ontploffing plaasgevind het. Schulze het gesê die maatskappy het voldoen aan die internasionale veiligheidstandaarde van die departement van arbeid en dit selfs oortref.

Rheinmetall Denel Munition RF is ʼn geïntegreerde vervaardiger en verskaffer van wapens en plofstofverwante produkte vir gewapende magte en polisie in Suid-Afrika en ander lande.

RDM is “ʼn strategiese vennootskap” tussen Rheinmetall Defence van Duitsland wat ʼn 51%-aandeel besit en Denel SOC van Suid-Afrika met die oorblywende 49%-aandeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.