Toetssentrumbeamptes vas vir ‘bedrog’

Argieffoto

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het Dinsdag gesê vier beamptes by ʼn private toetssentrum in Gauteng is weens beweerde bedrog in hegtenis geneem.

Simon Zwane, woordvoerder vir die RTMC, het gesê die beamptes is in hegtenis geneem ná ʼn gesamentlike poging deur die korporasie se teenkorrupsie-eenheid, die polisie se georganiseerde misdaad-eenheid en die Gautengse verkeersdepartement.

“Die vier beamptes is Maandag by ʼn toetssentrum in Clayville buite Tembisa in hegtenis geneem nadat hulle glo valslik voertuie padwaardig verklaar het,” het Zwane gesê.

“Die inhegtenisneming volg nadat ʼn ondersoek ʼn slenter ontbloot het waar die identiteitsdokument van ʼn 64-jarige bedlêende man glo gebruik is om padwaardigheidsertifikate vir honderde voertuie uit te reik.”

Zwane het gesê dié voertuie is na bewering nooit fisies ondersoek voordat die padwaardigheidsertifikate uitgereik is nie. “Onpadwaardige voertuie hou ʼn groot gevaar in op die land se paaie en dra by tot ʼn groot aantal ongelukke,” het Zwane bygevoeg.

Die vier verdagtes sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie en bedrog. Nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ekke ·

Goed so….. so raak die skelms darem bietjie minder en die gevaarlike voertuie? Kan die voertuie van die pad afgehaal word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.