Tokai-moord: Drie vas

Franziska en haar pa Andreas

Franziska en haar pa Andreas

Die polisie het bevestig dat drie verdagtes in hegtenis geneem is in verband met die moord op die 16-jarige Franziska Blöchliger.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die drie verdagtes, tussen 22 en 27 jaar oud, in aanhouding is en ondervra word. Volgens Traut is hulle Dinsdagaand in hegtenis geneem. “Die omstandighede rondom die saak word steeds ondersoek en geen verdere inligting kan in die stadium bekend gemaak word nie.”

Dit kom ure nadat Franziska se pa, Andreas Blöchliger, ʼn beloning van R50 000 uitgeloof het vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van sy dogter se moordenaar.

Thomas Knemeyer, ʼn raadslid van die Constantia Waldorf-skool waar Franziska skoolgegaan het, het aan Maroela Media gesê Andreas is bereid om die beloning tot R100 000 te verhoog ten einde te verseker dat geregtigheid geskied. “Hy wil hê daar moet druk op die polisie bly sodat daar nie weke verbygaan en niks gebeur nie. Hierdie saak moet opgelos word.”

Maroela Media het vroeër berig Franziska is Maandagmiddag in die Tokai-woud in die suidelike voorstede van Kaapstad vermoor. Die gr. 10-leerling het saam met haar ma en suster en die gesin se hond in Tokai gaan stap. Sy het in ʼn stadium vooruitgedraf en sou haar ma en suster verder aan weer ontmoet. Haar ma het bekommerd geraak toe sy na ʼn sekere tyd nie teruggekeer het nie en alarm gemaak. Traut het Dinsdag gesê die meisie se lyk is Maandag omstreeks 18:15 in Dennedalweg gevind. “Ons vermoed sy is verwurg.”

Knemeyer het Franziska vroeër beskryf as ʼn skaam teruggetrokke meisie wat baie vriendelik was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

GES ·

Al word die skuim aangekeer wat hierdie mooi jong dame se lewe geneem het, gaan dit haar nie terugbring nie. My innige simpatie met haar familie en vriende. Ek hoop dat julle berusting sal vind. Dit is maar moeilik in hierdie geknelde land van ons waar niemand sy of haar lewe seker is nie.

Johann Marx ·

Hierdie is ‘n gevaarlike situasie wat besig is om al hoe meer in Suid Afrika kop uit te steek. Die SAPD prioritiseer sake waar die slagoffer se naasbestaandes “belonings” aanbied. Dit is nie volhoudbaar nie. Ek het innige simpatie met hierdie Pa en Ma, en ek sou seker dieselfde gedoen het as ek in hulle skoene was, maar……ons kan nie toelaat dat “belonings” die dryfveer word agter “geregtigheid” nie.

SkarrelKind ·

Johann, ek stem saam met jou. Moorde moet opgelos word. Punt. Sonder beloning. Dis ‘n lewe wat geneem is. En ek kritiseer nie die ouers nie, ek kritiseer eintlik die slapgat regering wat toelaat dat moord aan die orde van die dag is.

Sumari ·

Jinne drie van die goed om een meisie se onskuldige lewe te neem. Ek haat alle moordenaars, verkragters en skelms, want hoe kan ‘n mens van sulke wrede mense hou.

Gesiggie ·

Darem verbaasend hoe vinnig hul nou verskyn.. omdat daar n beloning uitgeloof is… Die Pa sal veg tot die einde”’ ter nagedagtenis aan sy dogter..hy sal aanhou tot die waarheid uitkom.. wonder of dit nie die Moordenaar se plan was , om dalk geld uit dit te kry? Maar suprise vir hom, want die Tronk wag vir hom… Mnr Andreas, mag die saak vinnig afgehandel word, sodat U as gesin berusting kan vind. En antwoorde kan kry.

Karolis ·

Dalk ‘n goeie voorstel om die beriggewer se konnetasie ook te toets.
Iemand wat inligting oor moordsake weerhou moet ook vasgevat word.
Ignoreer ‘n misdaad dan pleeg jy mos ‘n wandaad.

Pieter dp ·

Ja nee dit wys net. Geld wat stom is maak reg wat krom is.

F.c ·

Die polisie hardloop al twee dae rond sonder slaap VOORDAT die belonging bekend gemaak was! Mense hou op die polisie oordeel. Prys die polisie vir die arrestasies en hulle deursettings vermoe! Die polisie het ook families. Hulle nie emosielose robote nie. Daar is nog passievolle hardwerkende polisie beamptes daar buite!

FW ·

F.c jy is of ‘n polisieman of jy is van die 0.005 % wat nog op die piesang republiek se bende in blou glo en vertrou om jou veilig te hou

Thea Gerber ·

Jy is reg. Daar is nog goeies, maar huĺle is so bitter min. Al die ander het al geloop agv die onuithoudbare werksituasie en diskriminasie.

Wendy ·

Amazing hoe ryk kinders se moorde so gou opgelos word. My vriendin Elchenette Rademeyer is verlede jaar September vermoor en die moordernaars is nog steeds vry. Omdat sy nou nie ryk of high class was nie…… Sy was ‘n “danser”. Daar word mos afgekyk op sulke “girls”. Niemand gee om vir die armes nie maar as rykmanskind vermoor word dans almal.

Sumari ·

Wendy ek dink jou kommentaar is onvanpas hoor. Iemand het ‘n kind verloor en dit is waaroor jy aangaan dit maak nie saak wie het geld en wie het nie.

Rickey ·

Wendy, hoeveel moordenaars loop daar buite rond? Hoeveel familie moes al hul vermoorde geliefdes begrawe sonder dat enige skuldiges ooit vasgetrek is? Jy maak hierdie ‘n persoonlike ding – dit is nie. Ons almal wil graag in groot huise bly, luukse motors ry en elke jaar op eksotiese vakansies gaan. Net so graag sal almal vir ons graag “belonings” wil kan aanbied om mense aan te moedig om na vore te kom na geliefdes se moorde. Mense wil nie altyd nie, want daar is altyd die vrees vir viktimisasie. Wees realisties.

Realis ·

Wendy, jy maak hierdie ‘n persoonlike ding – dit is nie. Sou jy nie graag ook wou die geld gehad het om belonings aan te bied as misdaad jou geliefdes geaffekteer het nie? Ek weet dat ek beslis sou wou, maar maak nie saak wat die omstandighede ek kan geensins daardie tipe fondse as belonings aanbied nie. Hou in gedagte, dis nie die polisie wat die beloning kry as iemand vasgetrek en vervolg word nie, so daar is geen rede vir hulle om “meer aandag” aan hierdie moord te gee as enige ander nie. Die familie wil die publiek aanmoedig om met inligting na vore te kom d.m.v. die beloning – eenvoudig soos dit.

Paul ·

Wendy, al wat my pla is hoekom verdagtes soos die binne 3dae in hegtenis geneem word en sake soos die byl moord neem meer as `n jaar en geen verdagtes word vervolg?Speel die 250 miljoen dalk `n rol? Ek verstaan nie mooi .Die reg moet tog neutraal wees nie waar?Die boere van Parys word aangekeer sonder die nodige getuies.?

Josua Keys ·

Dis jammer om hierdie tipe berigte te lees, gister is een van ons drywers oppad Bronkhorspruit toe gekaap en dood geskiet niks is eens gevat nie alles net so gelos en hulle het spoorloos verdwyn, niemand verdien om vermoor, verkrag , beroof en alles wat onmenslik is oor te kom nie. Mense ons kan ‘n verskil maak in die land elke kind en ouer wat stem magtig is moet gaan stem teen die ANC sodat ons ‘n regering in Suid Afrika kan instem wat weer orde kan skep en die gemors wat die dade pleeg uit die gemaanskap kan verwyder, en hulle van alle regte ontneem!!!! Sterkte aan die Families en ek hoop die skuldiges word gou uit gewys.

Hennie ·

Dit is teleurstellend dat geen politisie, of enige iemand van die regering enige woord gerep het, of die misdaad veroordeel het nie! Kan jy jou voorstel wat die reaksie sou wees as die jong meisie swart was, en die jong moordenaars wit seuns was! Dit laat jou dink né!

Jakes ·

Jaaaa. En al wat die meeste van die mense hierin raaklees is dat daar ‘n beloning was, en nou is dit ‘n hengse issue! Sou jy nie ook (as dit jou dogter was) alles in die stryd werp nie? Die beloning gaan nie na die polisie toe nie – dit word aangebied om lede van die publiek aan te moedig om met inligting na vore te kom. Wendy – wat het die berig, of die geval nou met jou ‘danser vriendin se onopgeloste moord te doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.