Tokai-moord: Staat wag op selfoonbewyse

Franziska en haar pa Andreas.

Franziska en haar pa Andreas.

Die saak teen die mans wat aangekla word van verkragting, roof en moord op die 16-jarige Franziska Blöchliger is Vrydag in die Wynberg-landdroshof uitgestel omdat daar steeds op selfoonbewyse gewag word.

Adv. Renee Prinsloo-Uys, die staatsaanklaer, het die hof verseker dat die bewyse in die volgende paar weke gereed sal wees aangesien dit byna ses weke geneem het om saam te stel en binnekort gefinaliseer sal word.

Die hof is ook ingelig dat een van die beskuldigdes, Jerome Moses, nou deur Kevin Pietersen verteenwoordig sal word. Moses is saam met sy medebeskuldigde, Daniel Easter, op borgtog vrygelaat omdat hulle slegs met Blöchliger se gesteelde selfoon verbind kan word. Hul borgtog is Vrydag verleng.

Die ander twee beskuldigdes het reeds vroeër aangedui dat hulle nie om borgtog sal aansoek doen nie. Een van hulle word verbind met ʼn ander saak van moord, verkragting en roof, terwyl die tweede een versuim het om in die hof te verskyn by ʼn vorige geleentheid in verband met ʼn ander saak.

Blöchliger se liggaam is in Maart in die Tokai-woud gevind nadat sy gaan draf en nooit weer teruggekeer het nie. ʼn Nadoodse ondersoek het getoon dat Blöchliger verkrag is, en sand in haar keel ten tyde van haar dood asook wurgmerke aan haar keel gehad het.

Die saak is tot 28 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Hasie ·

Alleenlik die doodstraf behoort hier van toepassing te wees. Gewetenlose wreedaarts. Die skuldiges moet permanent uit die samelewing gesit word. Die verlies en pyn van die ouers is vir altyd. Mag julle tog vertroosting vind.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.