Tokai-moord: Vier weer in hof

Franziska Blochliger en haar pa, Andreas.

Franziska Blochliger en haar pa, Andreas.

Een van die vier mans wat beskuldig word van die verkragting en moord op die tiener Franziska Blöchliger van Kalkbaar in die Tokai-woud in Kaapstad vroeër vanjaar, sal eers in die middel van Januarie weet of sy borgtogaansoek suksesvol was.

Die vier mans het Woensdag in die Wynberg-distrikshof voor landdros Momina Ismail verskyn.

Die doel van Woensdag se verhoor was tweevoudig, vir een van die mans om te verduidelik waarom hy op 6 Desember nie in die hof verskyn het nie, en vir prokureur Monique Carstens om haar geskrewe redes in te dien waarom haar kliënt se vrylating om borgtog in die belang van geregtigheid is.

Prokureur Mogammad Galant, wat die beskuldigde verteenwoordig wat versuim het om op 6 Desember in die hof te verskyn, het aan die hof gesê sy kliënt was siek, maar het inderdaad by die hof opgedaag, net vir die hofbeamptes om vir hom te sê hy moet die Woensdag terugkom. Galant se kliënt het Woensdag se hofverrigtinge bygewoon en sy verskoning is aanvaar deur staatsaanklaer Phumeza Mtuyedwa-Zondi.

Twee van die mans is reeds vrygelaat op borgtog van R1 000 elk.

Die derde man dien reeds tronkstraf uit in ʼn onverwante saak en Galant se kliënt sal op 18 Januarie weet of sy aansoek om borgtog suksesvol was.

Die beskuldigdes het op 6 Desember ʼn afskrif ontvang van hul klagstaat, waar die besonderhede van die moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede bekend gemaak word.

Die landdros het tydens die hofverrigtinge gesê dit is een van die “gewelddadigste, mees veragtelike sake” wat hy ooit teëgekom het. Sy het gesê sy het simpatie met die gemeenskap en verstaan waarom hulle nie wil hê die mans moet op borgtog vrygelaat word nie. “Die hof kan egter nie beginsel laat vaar dat ʼn beskuldigde vermoedelik onskuldig is totdat hy skuldig bevind is nie.”

Die 16-jarige Blöchliger is op 7 Maart dood aangetref in die Tokai-woud, ongeveer 200 m van waar sy en haar ma mekaar sou ontmoet nadat sy op die gewilde roete gaan draf het.

Lees alle vorige berigte oor die Tokai-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

popeye ·

Ek weet Carstens en Galant het ‘n werk om te doen maar jinne, hoe leef jy met dit saam om sulke gemors te verdedig?

Herman ·

R1000 borgtog, hoe belaglik. Die 2 knewels loop nou tussen ons rond.

callie ·

Ja kyk na kleur van moordenaars. Tans sit die manne met die doodskis storie nog in die tronk. Die lewe in SA is regtig baie siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.